James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Kunsmisproewe by HS Ermelo tot voordeel van landbou

In Suid-Afrika is daar tans R190 miljard skuld in landbou waarvan sowat 60% graanboere s’n is en gegewe die volhoubaarheid van voedselproduksie is dit krities belangrik dat elke kommoditeit gaan kyk na winsgewendheid – nie na maksimum opbrengs nie, maar maksimum wins.

Met dié waardestelling ingedagte het TLU SA se Adviesdiens met gronddeskundige dr. Gawie du Toit aan die spits in samewerking met Hoërskool Ermelo se Landbou-akademie kunsmisproewe gedoen en onlangs ’n proef-oes gehad.

“Dit is maksimum wins wat die stabiliteit gee vir volhoubaarheid. Dit gaan nie oor maksimum kunsmis te gee nie, maar om die regte hoeveelheid kunsmis te gee en so seker te maak jy gaan nie verby die kurwe van die dalende opbrengs nie en so op die afdraande pad beland nie,” het mnr. Bennie van Zyl, TLU SA se Hoofbestuurder, gesê.

Boer Gerrie van Rensburg het van sy grond vir die proewe beskikbaar gestel.

“Ek het groot waardering vir dr. Gawie du Toit, die onderwysers en leerders van Hoërskool Ermelo en Gerrie vir die belangrike navorsing wat ons hier kan doen. Dit was lekker om die leerders se entoesiasme met die proses te sien.”

Mnr. Van Zyl het bygevoeg: “Winsgewendheid moet die strewe bly. Dié was net ’n proef-oes, want dit is belangrik om die leerders betrokke te hê en die oes sal eers werklik reg wees met die skool vakansie. Na afloop van die ware stroop, sal die syfers bekend gemaak word by ’n Boeredag. So sal boere kan sien wat is die beste benadering wat kunsmis toediening betref om maksimum wins te bereik.”

 

Die oesproses wat vir die proef-oes gevolg is, was as volg:

  • Daar is 11m van elke perseel uit geoes.
  • Die geoeste koppe is ontblaar. Die skoon koppe is eindresultaat.
  • Die koppe is getel en neergeskryf.
  • Dan is die sakke met skoon koppe geweeg en massa neergeskryf.
  • Elke sak het ’n nommer gekry. Daar is 14 persele met verskillende NPK-behandelings.
  • Die koppe is “gedors”: Die pitte is met die hand afgemaak.
  • Die betrokke persele se massas is met 1000 vermenigvuldig (x1000) wat dan ’n waarde van kg/ha lewer.
  • Die vog van elke perseel sal by die graansilo bepaal word en finale berekening van opbrengs sal dan op ’n 12.5% vogbasis gedoen word, wat die standaard vogbasis vir mielies is.

“Vir die proefresultate is twee aspekte te sprake, naamlik mielie-opbrengs en maksimum mielie-wins,” het dr. Du Toit verduidelik.

“Dit lei geen twyfel nie dat groot mielie-oeste die uitdaging van die tyd is, kompetisie is aan die orde van die dag om te bepaal wie die rekord oes kan behaal. Koste-inset is nie in dié geval ter sake nie. Dit gaan slegs oor die maksimum oes. Mielieboerdery is ’n besigheid wat noodwendig op maksimum wins ingestel moet wees. Weens die biologiese aard van die boerdery, is dit onderhewig aan die bekende ‘Wet van dalende opbrengs’. Hierdie wet bepaal onteenseglik dat geen maksimum oes ooit die beste wins kan lewer nie. Dit is ’n natuur- en ekonomiese wet.

 

Kategorie:

Deel dit:

Kunsmisproewe by HS Ermelo tot voordeel van landbou