Landbou finansiering se uitdagings bly groot en ons verneem al hoe meer van uitdagings wat lede daarmee ervaar. Na ’n besoek by die Landbank het hulle bevestig dat hulle primêr fokus op bestaande kliënte en sal na moontlike nuwe kliënte op ’n beperkte skaal kyk indien dit ’n stabiele kliënt te blyk.
By die handelsbanke is die reëling nog steeds dat elke aansoeker individueel beoordeel sal word. Wat wel beklemtoon moet word is dat die terugbetaalvermoë grootliks bepalend is en derhalwe moet ’n konserwatiewe en haalbare besigheidsplan deel uitmaak van die aansoek vir finansiering.
’n Aspek wat telkens uitkom is die probleem dat boere te lank wag indien daar redes is hoekom daar nie presteer kan word volgens die ooreenkoms nie en dat daar eers sodra die probleem by die regsafdeling lê, plan gemaak word. Die bankiergedeelte van die bank het op daardie stadium nie meer enige inspraak om te kan help plan maak nie. Lede word daarop gewys dat dit beter is om eerder vroeër as later met die bank in verbinding te tree oor enige probleem wat kan opduik oor die moontlike nie-presteer van die terugbetaal verpligting.