Daar word vanuit verskeie oorde verneem dat boere sukkel om produksielenings te kry. Heelparty van die instansies wat lenings aan boere toestaan, verkry hulle fondse van die Landbank, wat ongelukkig in die grond in bestuur is.
Ons is besig om met die rolspelers wat normaalweg finansiering toestaan, afsprake te reël. Wat sover na vore gekom het, is dat landbouers wyer moet soek indien daar probleme by die normale finansierders is – daar is wel van die instansies wat oor die kapasiteit beskik om meer boere te kan help, as hulle normale kliëntebasis.
Dit is van kardinale belang dat ons boere in produksie moet bly.
TLU SA bevorder reeds vir jare lank die gedagte van sindikasie waar boere hulle kragte op ‘n paslike wyse tot voordeel van alle betrokkenes saamsnoer. Dit het dalk nou tyd geword dat daar ernstig na die model gekyk word. Sodoende kan daar heelparty kapitaal ontsluit word deur gereedskap en implemente te rasionaliseer. Dit is vir enige boer in die beste belang dat daar ‘n suksesvolle boer op die buurplase moet wees. Kom ons kyk nou na mekaar – nie net vir veiligheidsredes nie, maar ook rondom ekonomiese volhoubaarheid en ook vir geestelike onderskraging.