‘n Getroude egpaar, twee broers, een boer uit Gauteng, een uit KwaZulu-Natal en drie boere uit Limpopo sê mekaar vanjaar die stryd aan in die TLU SA / Old Mutual Insure Agri / Manitou / Mahindra-Jongboer van die Jaar kompetisie.

Die top agt finaliste word vandag bekend gemaak.

Jongboere (onder 35 jaar) van regoor die land het vir die kompetisie ingeskryf en die beoordelaars moes in die eerste siftingsrondte met moeite die deugde van die deelnemers ontleed, voordat die finaliste uit die streke aangewys is.

“Ons is aangenaam verras oor die kwaliteit van jongboere wat vanjaar vir die kompetisie ingeskryf het,” sê mnr. Bennie van Zyl, die Hoofbestuurder van TLU SA, wat ook een van die beoordelaars is. “Die doelgerigtheid, toekomsvisie en algemene bestuursvernuf van die boere is vir ons ‘n riem onder die hart, veral in hierdie onsekere tye wat landbou vandag knel.”

Die agt finaliste is (in alfabetiese volgorde):
AJ Wohlfarht (34) van Wohlfarht Pluimvee in Gauteng naby Magaliesburg. Hy boer met pluimvee;
Azelle Uys (29) van Platkoppie in Heidelberg by Suikerbos. Sy boer met beeste en skape;
George en Stephan Cloete (29 en 28) van die plaas Holbank in Ermelo, Mpumalanga. Hulle boer met skape, mielies en sojabone;
Henna du Plessis (33) van Rockferry op Maasstroom in Limpopo. Hy boer met groente en wild;
Lukas Eksteen (33) van Buffelsfontein in Naboomspruit, Limpopo. Hy boer met beeste en spesifiek Bonsmara.
Neels Uys (30) van Platkoppie in Heidelberg by Suikerbos. Hy is ‘n saaiboer;
Stefan Landman (33) van Dagwacht in Groenvlei in die noorde van KwaZulu-Natal (Wakkerstroom/Utrecht omgewing). Hy boer met skape, beeste, sojabone en mielies.
Wynand Louw (28) van Nooitgedacht in Limpopo in die Soutpansberg Distrik. Hy boer met Boran beeste en macadamia neute.

Die beoordelingspan het einde Junie by die finaliste besoek afgelê om insae in die boere se lewens en boerderye te kry as deel van die beoordelingsproses.

Video’s is van elkeen van die finaliste geneem tydens die besoeke en verskyn van vandag op TLU SA se webblad (by https://www.tlu.co.za/jongboere/) en die Facebookblaaie (TLU SA by https://www.facebook.com/TLUSAsedert1897/ en TLU SA Jongboere by https://www.facebook.com/TLUSAJongboere/).

‘n Splinternuwe deel van die kompetisie is die gemeenskap se stemme. Enigiemand kan vir hulle drie gunsteling-boere stem. Dié stemme dra ‘n bepaalde gewig in die beoordelingsproses. Die publiek kan direk op TLU SA se webblad stem of deur die deelnemers se naam te SMS na 34855.

“Ons is opgewonde oor die stap om die publiek by die stemproses te betrek,” sê mnr. Van Zyl. “Dit is belangrik om ons jongboere die nodige erkenning en aanmoediging te gee om landbou se toekoms te versterk. Ons wens die finaliste alles van die beste toe.”

Die top drie finaliste word tydens TLU SA se Kongres op 18 September bekendgemaak.

**TLU SA sal teen 12 Augustus profiele van elkeen van die deelnemers aan plaaslike media bekendstel.**

 

Uitgereik deur:  TLU SA

Datum:                 8 Augustus 2019

Navrae:                 Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,
                                 Sel.: 082 466 4470

                                 Mnr Ferdi Landman, Voorsitter TLU SA: Jongboere,
                                 Sel.: 083 648 6077