Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

TLU SA het vanoggend ‘n voorlegging aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Openbare Werke en Infrastruktuur gelewer as deel van die openbare deelname proses rakende die Onteieningswet.

Die komitee het tussen 10 Desember 2020 en 28 Februarie 2021 meer as 250 000 voorleggings in verband met die Onteieningswet ontvang. TLU SA het in die skriftelike voorlegging aangedui dat die organisasie ook ‘n mondelinge voorlegging wil aanbied. Hierdie gedeelte van die proses het vir omstredenheid gesorg toe die komitee eers aangedui het geen mondelinge voorleggings sal toegelaat word nie. Die besluit is later omgekeer en die voorleggings vind vandeesweek plaas. Verskeie organisasies, insluitend TLU SA moes egter ekstra stappe neem om wel ‘n spreekbeurt te ontvang.

“Ons het met die voorlegging weer klem gelê op die ekonomiese impak van die Onteieningswet – wat eintlik maar net ‘n manier is om privaat besitreg uit te roei,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Die feit dat die komiteelede se vrae oor ons voorlegging glad nie met ekonomiese vooruitgang te doen gehad het nie, bewys net weer dat die besluitnemers in die regering geen idee het hoe ‘n ekonomie behoort te werk sodat dit volhoubaar bly nie.”

In die voorlegging het TLU SA dit duidelik gemaak dat moderne landbou ‘n besigheid is, en dat boer nie net ‘n beroep is nie, maar ‘n lewenswyse. Vir die meeste moderne landbouers – wat volhoubaar en suksesvol boer – handel landbou oor die vrye mark. Deur privaat besitreg deur onteiening sonder vergoeding aan bande te lê, word die vrye mark ook bedreig.

“Ons het weereens beklemtoon dat die land dringend buitelandse belegging benodig vir die ekonomie om te groei,” sê mnr. Geldenhuys. “Maar beleide soos transformasie, SEB en nou onteiening sonder vergoeding druis loodreg daarteen in. Watter regdenkende belegger sal in ‘n land belê waar sy of haar bates bedreig word?

“Die eintlike vraag wat die regering moet beantwoord is nie of ons, COSATU of die Parlement die wet gaan aanvaar nie, maar of die markte dit gaan aanvaar. Die land is op ‘n pad na onomkeerbare armoede en daarmee saam al die euwels wat dit bring.”

TLU SA het met die voorlegging ‘n beroep op die regering gedoen om aan Suid-Afrikaners te erken dat ‘n beleid van armoede vir almal dit baie makliker maak vir die kaders om hulle sakke vol te maak, ten koste van die land.

 

 

Uitgereik deur:          TLU SA

Datum:                       25 Maart 2021

Navrae:                       Mnr Henry Geldenhuys, President TLU SA,

                                    Sel.: 083 560 1273

Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,

                                    Sel.: 082 466 4470

Sluit aan
POPI

Nuusbriewe
Checkboxes

Kontak Ons