Die omstrede Grondpaneelverslag sal nie net verreikende gevolge op landbou hê nie, maar ook op enige ander grondeienaars in die land. TLU SA het besef dat die algemene publiek onbewus is van die implikasies wat die implementering van die voorstelle in die verslag op hulle eiendom kan hê.

Die verslag wat fokus op onteiening sonder vergoeding, is einde Julie bekendgestel en uit landbou-geledere is dit wyd veroordeel. Twee lede van die paneel, mnr. Nick Serfontein en mnr. Dan Kriek het hulle van die paneel onttrek en terselfdertyd ‘n minderheidsverslag saamgestel omdat hulle nie met die voorstelle in die verslag saamgestem het nie.

“Hoewel ons, as die landbougemeenskap, uiters bekommerd is oor die implikasie en gevolge van die voorstelle in die Grondpaneelverslag vir kommersiële landbou, is ons ook baie besorg oor die publiek se gebrek aan kennis hieroor,” sê mnr. Louis Meintjes, die President van TLU SA. “Ons het die verslag deeglik bestudeer en dit is duidelik dat die voorstelle ook vir stedelinge, inderwaarheid enige grondeienaar, rooi vlae moet laat wapper.”

Die belangrikste elemente waaroor alle grondeienaars bekommerd behoort te wees, sluit in:

  • Die voorgestelde eiendom vir onteiening sal die volgende groepe teiken: kommersiële boere, agri-besighede, mynhuise, kerke, finansiële instellings en ander grondeienaars;
  • Die grondeienaar moet onteiening sonder vergoeding finansier;
  • Die regte van ‘n grondeienaar ten opsigte van uitsettings word nog meer beperk;
  • Privaatbesitreg word verander na ander vorms van eienaarskap met die uiteindelike doelwit van nasionalisering; en
  • Die staat is in beheer van die landbou-waardeketting, insluitend die produksie en verspreiding van voedsel, asook die prosesse en infrastruktuur vir voedselproduksie.

Die belangrikste punte van die lywige verslag is op TLU SA se webwerf beskikbaar.

TLU SA bou reeds ‘n geruime tyd aan die TLU SA Eiendomregsfonds wat hoofsaaklik aangewend sal word vir hofsake rondom grondonteiening.

TLU SA stel dan ook vandag die Rooivlae Veldtog bekend waardeur die publiek aangemoedig word om hierdie fonds te ondersteun.

“Ons sal verder ook voortgaan met ons aksies en gesprekke met die buiteland om druk op die Suid-Afrikaanse regering toe te pas om die kortsigtige grondwetwysigings rondom grondonteiening – wat privaat besitreg in gedrang plaas – te staak,” sê mnr. Meintjes.

Vir meer inligting oor die Rooivlae Veldtog, besoek die webblad hier.

 

Uitgereik deur:          TLU SA

Datum:                       22 Augustus 2019

Navrae:                       Mnr Louis Meintjes, President TLU SA,

                                       Sel.: 082 461 7262

 

                                       Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,

                                       Sel.: 082 466 4470