Die opstoking en rassehaat wat tydens xenofobiese geweld in Suid-Afrika teen witmense aangevuur word, is vir TLU SA nie net onaanvaarbaar nie, maar ook uiters kommerwekkend.

“Alhoewel die presiese motief van groepe soos die BLF en EFF onseker is, is dit duidelik dat hulle rassehaat teen wit mense verkondig en selfs so ver gaan om te sê dat geweld teen wit mense regverdigbaar is,” sê mnr. Louis Meintjes, die President van TLU SA.

Die leiers van die BLF en EFF, Andile Mngxitama en Julius Malema, en die Sekretaris-Generaal van die ANC, Ace Magashule is die voorbokke met uitsprake waarin hulle ondersteuners aanmoedig om eerder wit Suid-Afrikaners aan te val as swart buitelanders.

Mngxitama dreig dat “hulle” eendag teen die blankes sal draai en die wit minderheid sal blameer vir “hulle” armoede. Hy sê dat die plundering en oproer net die kleedrepitisie vir ‘n burgeroorlog teen blankes is, terwyl Malema sy “Afrika-broers en -susters” aanmoedig om eerder hulle woede teen die “eienaars van rykdom – wit, monopolistiese kapitaal” te mik. Magashule ontken dat xenofobie enigsins die rede vir die onluste is omdat blankes nie aangeval word nie.

“Moorde op boere op hulle plase is in verhouding meer as drie keer soveel as moorde op die gemiddelde Suid-Afrikaner,” sê mnr. Meintjes. “Baie van die plaasmoorde kan toegeskryf word aan die irrasionele haat vir witmense wat verkondig word deur hierdie sogenaamde revolusionêre groepe.

“Weerstand teen die revolusionêre groepe se ideologie en fisiese aanslag is vir TLU SA van kardinale belang,” sê hy. “Omdat ʼn irrasionele ideologie deel uitmaak van die aanslag kan mens dit nie opponeer soos mens enige ander aanslag opponeer nie.”

TLU SA se Stop BLF-veldtog is nie op een persoon gemik nie maar op  ʼn irrasionele revolusionêre ideologie wat haat en geweld teen witmense aanmoedig.

TLU SA het ‘n vyfpunt-strategie om weerstand teen die aanslag te bied:

  1. Leef in vrede met die Suid-Afrikaners wat nie vir die irrasionele ideologie te vinde is nie. Bou bande met ons mede-Suid-Afrikaners en vind oplossings om saam hierdie vernietigende siekte gesond te maak;
  2. Beïnvloed mense wat die ideologie onderskryf, om nie meer daarin vasgevang te word nie. Ons gebruik ons unieke posisionering in die landelike gebiede waar die revolusionêre ideologie ernstig sweer, om mense daar positief te beïnvloed;
  3. Omdat die haat-ideologie nie toelaatbaar is onder die reg nie, gebruik ons elke regsremedie tot ons beskikking om die drywers van die irrasionele ideologie teen te staan;
  4. TLU SA bou ons veiligheidstrukture uit om dié wat reeds die rassehaat-ideologie in dade om te sit, teen te staan; en
  5. TLU SA bring die irrasionele revolusionêre ideologie in die buiteland aan die lig en moedig internasionale druk daarteen aan.

Ondersteun TLU SA se veldtogte wat hierdie strategie bevorder deur by hierdie skakel ons petisies te teken.

 

Uitgereik deur:          TLU SA

 

Datum:                       10 September 2019

 

Navrae:                      Mnr Louis Meintjes, President TLU SA,

                                   Sel.: 082 461 7262

 

Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,

                                   Sel.: 082 466 4470