“TLU SA kan nie help om te wonder of die absurde verhoging in die minimum loon nie net nog ʼn verdere aksiestap deur die ANC is om stemme vir die komende verkiesing te werf nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Hierdie reaksie kom na die aankondiging vroeër vandag dat die minimum loon op 1 Maart vanaf die huidige R23,18 tot R25,42 per uur vir werkers (ingesluit huis- en plaaswerkers) sal styg. Dit is ʼn styging van byna 9,7%.
Van Zyl gaan voort deur te sê teen die tempo waarteen ministers aangestel word, daar dalk ʼn minister van werkloosheid ook aangestel moet word. “Binnekort sal só ʼn minister die grootste gedeelte van die bevolking verteenwoordig, want besighede, wat plase insluit, kan nie so ʼn belaglike styging binne die huidige ekonomiese toestand van die land bekostig nie. Verstaan die regering nie dat dit beter vir ʼn ongeskoolde werker is om eerder teen R20 per uur te werk as om geen werk te hê nie? Die regering moedig werkloosheid aan, en dan betaal hulle nog diegene wat nie werk het nie ʼn sosiale toelaag ook, wat volgens die staatsrede sal verhoog om by inflasie aan te pas.”
TLU SA voel sterk dat die verhoging in die minimum loon ʼn blatante uitbuiting van die werkgewer is. “Die ooreengekome norm van inflasiekoers plus 1%, wat ongeveer 8%, was reeds vir boere byna onbereikbaar. Dit is duidelik dat die regering se woord nie die papier werd is waarop hulle sogenaamde ooreenkomste staan nie. Die regering het totaal met die realiteit tred verloor. Hul kan nie langer toegelaat word om voort te strompel en alles net te vernietig nie.”
In ʼn gesonde ekonomiese omgewing word prys op grond van vraag en aanbod bepaal. “Boere behoort self die salaris wat hy kan betaal vas te stel. Werkers kan dan besluit om dit te aanvaar al dan nie. Indien dit vir hulle onaanvaarbaar is, moet hulle ander opsies soek.”
TLU SA stel voor dat die huidige minimum loon plus 3% die norm behoort te wees. “Saam met ʼn minimum loon, kom ook ʼn minimum opleiding. Hierdie vasgestelde tarief kan mos nie aan persone betaal word wat nie ʼn minimum opleiding ontvang het en verantwoordelikheid kan aanvaar nie? Om maar net weer aan hierdie eensydige besluit toe te gee, minder as 60 dae voor die instelling daarvan, is absurd.”
Foto: Josh Appel | Unsplash