Kuddes – Ek haal graag die volgende aan soos ontvang vanaf een van die TLU SA-lede in die Oos-streek. “Gerugte doen die rondte van ‘n slenkdalkoors-uitbraak aan die hand van ‘n toetsverslag van die LNR. Die verspreiding van die toetsresultaat word bevraagteken en die Departement het tot op hede nog geen uitbraak aangekondig of bevestig nie. Die NWKV en die NAHF is in proses om die sirkulasie van die toetsverslag te bevraagteken en die protokol rondom bekendmaking van sodanige toetsresultaat te ondersoek. Simptome en diagnose van vee vrektes op die betrokke eiendom is na bewering nie die van slenkdal koors nie, maar eerder die gevolg van interne parasietbesmetting. Boere word egter steeds dringend versoek om voorsorg te tref deur skape teen slenkdal koors te ent.
Misdaad – Dit is duidelik dat die huidige situasie rakende die diefstal van vee gunstig lyk (afname). Dit is egter slegs duidelik waar daar sterk strukture soos die landelike beveiligingskomitees gevestig is. Gestruktureerde inisiatiewe binne hierdie strukture waar optredes soos plaaspatrollies ter voorkoming van veediefstal uitgevoer word het ‘n duidelike impak op die aanmelding syfer.
Na die afgelope reëns het dit gegons op sosiale media ten opsigte van die nasionale pad (R541) wat sodanig beskadig is deur die afgelope reënval dat die roete noodgedwonge gesluit moes word. Hier praat ons van die R541 tussen Badplaas en Machadodorp. Afgesien van die geweldige impak wat die sluiting van hierdie roete op die landbou omgewing gaan hê skep dit ook ‘n geweldige veiligheidsrisiko. Gebruikers van hierdie roete word ernstig gemaan om van alternatiewe roetes gebruik te maak.