In hierdie streek is die veiligheidsituasie op die voorgrond as gevolg van insidente soos dié by Pampoenkraal. Maar, dit is telkens duidelik dat sulke voorvalle plaasvind waar boere nie aan georganiseerde landboustrukture behoort nie. Dit is ‘n lont in die kruitvat en spoel oor na lede van georganiseerde landbou soos TLU SA.
Verder is die streek besig om veiligheidsplanne te hersien en aan te pas om in lyn van TLU SA se voorgestelde plan te val, maar ook spesifiek voorsiening te maak vir die unieke situasie in hierdie streek. Die sukses van die veiligheidsplanne is nou verweef met die plaaslike gemeenskap en individue se verhouding met die polisie en daarom moedig TLU SA lede aan om kontak te maak met die plaaslike stasie en bevelvoerder en ‘n verhouding te bou.
Veediefstal floreer, maar die vervolging van hierdie misdadigers skiet ver te kort. Dit is ‘n skreiende skande dat slegs twee uit elke 68 veediefstalsake tot in die hof vorder. Die ondersoekbeamptes is onkundig en opponeer daarom nie borg nie. TLU SA is besig om aan hierdie probleem aandag te skenk, maar besef dat dit ‘n uitgerekte, langsame proses sal wees.
Intussen is die boere in hierdie streek besig om te stroop dat die stof so staan en is die mielie- en soja-opbrengste hierdie seisoen baie goed. Die streek is ook opgewonde oor ‘n nuwe generasie jong boere wat gereed is om takke op die been te bring en TLU SA te versterk.