Een van die grootste frustrasies vir die inwoner in enige gebied in SA sal beslis die feit wees dat swak, onbevoegde diens gelewer word deur die munisipaliteite wat wissel van bestuurslisensies, rekeninge, vullisverwydering, onderhoud en natuurlik die voldoende voorsiening van water aan inwoners.
Op 20 September 2022 het die Nasionale Skool vir Regering (National School of Government of NSG) bekend gemaak dat ’n projek begin word waaronder opleiding aangebied sal word met die teikenmark seniorbestuur vir die bekamping van anti-diskriminasie in die staatsdiens en bestuursprestasiekursus vir die middel bestuur. Die twee kursusse sal aanlyn aangebied word as deel van die projek om kennis en vaardigheid aan publieke dienaars te voorsien wat dienste lewer aan die publiek. Die hoof van die skool, Prof Busani Ngcaweni het gemeld dat alle senior bestuur die
kursus moet onderneem.
Die Nasionale Skool vir Regering het ’n grondwetlike en wetgewende mandaat om onderwys, opleiding en ontwikkeling in die drie sfere van regering, staatsbeheerde entiteite en staatsorgane te verskaf. Hierdie mandaat is in ooreenstemming met Artikel 195 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika wat openbare administrasie as ontwikkelingsgerig en deelnemend verklaar. Die NSG het ook saamgewerk met verskillende internasionale vennote aan boord wat help met die lewering van programme
op ’n internasionale vlak.
Ingevolge huidige wetgewende reëlings moet staatsdepartemente jaarliks een persent van die werknemervergoedingsbegroting vir opleiding van sy werknemers begroot. Die verantwoordelikheid vir die opleiding van werknemers berus by departementele rekenpligtige beamptes en word hoofsaaklik deur mededingende verkrygingsprosesse onderneem. Daar word van die NSG verwag om inkomste te genereer om sy finansiële
lewensvatbaarheid en volhoubaarheid te verseker. Die kosteverhalingsmodel bestaan uit gedeeltelike befondsing wat deur die Parlement bewillig word en inkomste verkry uit kosteverhaling deur opleidingskursusfooie, wat in die opleidingsverhandelingsrekening bestuur word. Dit is dan ook positief om waar te neem dat die Nasionale Skool vir
Regering sedert die finansiële jaar 2018/19 tot nou ’n skoon oudit ontvang het.
Wat egter ’n bron van kommer is, is die feit dat deelnemers teen hul eie tempo kan studeer en daar nie keerdatums is waarop hierdie opleiding voltooi moet wees nie. Dit is geen nuwe nuus dat die regering verskeie projekte van stapel laat loop, maar waar dit by implementering kom, die inwoners uiters teleurgestel word oor die gebrek aan oorsig en bestuur.
Indien hierdie opleiding wat feitlik afgedwing word op bestuur wel die nodige aandag geniet, kan dit vir die inwoner van die land baie beteken waar die vlak van dienslewering kan verbeter. Tans is die munisipaliteite besig met beplanning rondom die ontwikkelingsplan en begroting en wanneer hierdie inligting deel vorm van die openbare deelname proses, wil ons elke inwoner aanmoedig om binne hierdie dokumentasie te verseker dat die opleidingaspek wel die nodige aandag geniet. Of korrupsie en wanbesteding hierdeur hok geslaan sal word, is ‘n ope vraag en slegs tyd sal leer.
Die vlak van verval in plaaslike regering is reeds so ver gevorder dat die hoop van verbetering baie skraal is. Daar is ’n effense lig in die tonnel en dit is ons verwagting dat hierdie lig nie sal verdwyn soos alle ander aspekte nie, maar ondersteun sal word om verbetering te bewerkstellig.