Ons leef in interessante en uitdagende tye. Daar is verskeie sake op die tafel vir bespreking. Daar is Zuma se mediese parool, die omstredenheid rakende ledeverkiesing vir November se plaaslike verkiesing en die Ad-hoc komitee in die parlement vir die Artikel 25 wysiging en beoogde voorstelle wat die ANC deurgedruk het na die Algemene Vergadering.
Die ANC het ’n 66% meerderheid nodig om die wysigings deur te voer en daarvoor het hy die EFF se stemme nodig en tans is die EFF gekant teen die voorgestelde veranderinge. Dit blyk dus of Onteiening sonder Vergoeding (OSV) dalk nek omgedraai is.
Dit bly egter van kardinale belang dat elke Suid-Afrikaner sy/haar stem laat hoor. Onteiening sonder Vergoeding raak ons almal, nie net boere nie. Bates is nie net grond nie en as die wysigings deurgevoer word, lei dit die klok vir die einde van privaatbesit in Suid-Afrika.
Laat jou stem hoor. Skryf briewe aan jou plaaslike of nasionale koerant. Vertel mense om jou die realiteit van die einde van buitelandse beleggers as die regering die reg – volgens die grondwet – gaan kry om bates net te vat soos hy wil. Watter regdenkende buitelandse belegger gaan geld in ons land belê in so klimaat. Die debat behoort in November in die Parlement plaas te vind. Dit is dus nou die tyd om die ANC aan die kaak te stel. Ons moet fokus op ekonomiese groei. As jy 10 mense vertel van die realiteit en implikasies van Onteiening sonder Vergoeding en hulle doen dit ook, is ons besig om die waarheid te versprei.
Ons moet NOU opstaan vir die toekoms van ons land.
Luister gerus ook hier na Bennie se bydrae op Radio Suid-Afrika oor dieselfde onderwerp:
Foto: Aaron Burden | Unsplash