“Dit is totaal ongrondwetlik om iemand se eiendom sonder vergoeding van hom af weg te neem!” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Die publiek het nou die geleentheid om kommentaar hieroor te lewer. Ons doen ʼn ernstige beroep op Suid-Afrikaners om op hierdie geleentheid te reageer.”
Die publiek word tans deur die Gekose Komitee vir Vervoer, Staatsdiens en Administrasie, Openbare Werke en Infrastruktuur genooi om kommentaar te lewer op die Onteieningswetsontwerp (B 23 B-2020). Die “B” dui op die veranderde wetgewing.
Van Zyl verduidelik: “Hierdie wetsontwerp is deur die Nasionale Vergadering goedgekeur, maar is na provinsiale vlak terugverwys waar daar nou vir insette gevra word. Skriftelike kommentaar moet teen 6 Maart 2023 ingedien word. Versoeke vir mondelingse voorleggings word ook nou gerig – TLU SA se eiendomskomitee is reeds besig om inligting vir hierdie doel in te samel.”
TLU SA neem as volg standpunt in:
Grondonteiening sonder vergoeding is:
- ongrondwetlik
- rampspoedig vir die ekonomie
- fataal vir voedselsekerheid
- diefstal van elke Suid-Afrikaanse jongmens se toekoms
“Wie wil geld in ʼn land belê waar daar ʼn wet is wat sê dat die staat jou grond mag vat sonder dat jy daarvoor vergoed word? Wil die Suid-Afrikaanse regering nóg ʼn Arabiese ellende skep waar hongersnood weens voedseltekorte algemeen is?”
TLU SA veg vir landbou in Suid-Afrika. Besoek ons webwerf om jou stem hieroor te laat hoor.
Lees ook die volledige wet hier.








