Dit is met groot trots in my hart dat ek terugkyk na vanjaar se Kongres. Dit was goed om weer ons mede-boere en landbou-ondersteuners in die oë te kyk en om die positiwiteit te sien wat in ons bedryf heers, ten spyte van die uitdagings.
Ek wil weer ons lede prys vir julle aanpasbaarheid deur al die seisoene van ‘n boer se lewe, of dit nou as mens, deur uitdagings of die fisiese seisoene is. Ons moet egter nooit vergeet dat baie van ons aanpasbaarheid kom van dinge wat buite ons beheer is nie – soos die regering se beleid. Daar wil ek boere vra om teenstand te bied en nie bloot die simptome van die probleem te bestuur nie. Ons moet saam staan en saam praat sodat ons die oorsaak van die probleme by die naam kan noem en oplossings kan vind.
Baie geluk aan elkeen van die waardige individuele en groepwenners wat ook tydens die Boerefees hulle pryse ontvang het. Harde werk word beloon en raakgesien. Doen so voort.
Ons innige dank aan die Balfour en Suikerbos Boere-unies vir julle enorme bydraes tot die TLU SA Traumafonds. Daar is altyd nood in ons boeregemeenskappe en hierdie bydraes maak dit vir ons moontlik om nood te verlig .
Aan ons nuwe Jongboer van die Jaar, Nicky van der Linde, mag jou boerdery van krag tot krag groei. Jy is ‘n inspirasie vir ander boere, oud en jonk en ons het baie om by jou te leer. Geluk aan Nets en Francois met julle prestasies en julle, saam met die ander finaliste maak ons hoopvol vir die toekoms.
Laastens wil ek namens myself en Wannie Scribante dankie sê dat julle weer julle vertroue in ons geplaas het om TLU SA as president en adjunk-president te verteenwoordig. Ons aanvaar die eer met verantwoordelikheid. Alle sterkte aan ons Uitvoerende Komitee-lede wat herverkies of nuutverkose is. Ons sien daarna uit om die nuwe jaar – saam met die finale streekverteenwoordigers – met ywer aan te pak.
Groete,
Henry