TLU SA het Maandag 10 November ’n ope brief aan President Cyril Ramaphosa gestuur waarin die organisasie dringende beleidsduidelikheid vra te midde van groeiende ekonomiese onsekerheid. Die organisasie waarsku dat aanhoudende beleidsverwardheid, kaderontplooiing en ideologiese eksperimente staatsinstellings verlam en die publiek se vertroue ondermyn het. In die brief doen TLU SA ’n beroep op die President om vertroue te herstel deur eiendomsreg te beskerm, kundigheid bo politieke lojaliteit te stel en vryemarkbeginsels te bevestig om die ekonomie weer op te bou.
Geagte Meneer die President,
Met die aanbieding van die middeltermyn-begroting om die draai, spreek TLU SA, namens die land se produsente en ekonomies betrokke burgers, ons ernstige kommer uit oor die rigting waarin Suid-Afrika beweeg.
Sedert 1994 het Suid-Afrika sy institusionele kapasiteit, infrastruktuur en ekonomiese doeltreffendheid sistematies verloor. Waar ondernemings soos Eskom, Denel, die Poskantoor, SAL, Spoorweë en ons hawens eens van wêreldgehalte was, het die funksionaliteit van hierdie entiteite oor tyd verbrokkel. Die gevolge daarvan is oral sigbaar: groeiende werkloosheid, toenemende armoede, en ’n ontploffing van misdaad en maatskaplike verval.
Meneer die President, hierdie is nie bloot toevallige uitkomste nie, dit is die direkte resultaat van ’n beleidsomgewing wat onsekerheid skep en kundigheid ondermyn. Beleidsrigtings soos onteiening sonder vergoeding, oorregulering van die arbeidsmark, en beleidsgebaseerde rassedifferensiasie deur Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en ander transformasie-verwante wetgewing, het saam ’n omgewing geskep waarin beleggers huiwerig is, entrepreneurs moed verloor en kundiges uit die staatsdiens en ook die land verdwyn.
Die kaderontplooiingstelsel, waar politieke lojaliteit bo vermoë en ervaring gestel word, het die land sy tegniese en bestuurskapasiteit gekos. Dié praktyk raak elke vlak van die samelewing, van die veiligheidsdienste tot die munisipale strukture en het die publiek se vertroue in die staat dramaties ondermyn.
Suid-Afrikaners vertrou nie meer hul eie instellings nie. Die SAPD, wat die eerste linie van beskerming teen misdaad behoort te wees, sukkel met swak bestuur, ontoereikende opleiding en ’n tekort aan hulpbronne. Daarmee saam kom dit net te veel na vore dat misdadigers hul in die SAPD geposisioneer het, wat veroorsaak dat ernstige vertrouens vraagtekens oor die SAPD uniform geplaas word. Vir die toegewyde individue in die SAPD geledere is daar groot waardering.
Die kernvraag waarmee die land nou te doen het, is eenvoudig: Watter koers volg Suid-Afrika?
Gaan ons kies vir ’n pad waar privaat eiendomsreg, vryemarkbeginsels en individuele verantwoordelikheid gerespekteer word, of gaan ons voort op ’n trajek van sosialisties-kommunistiese ideologieë wat reeds bewys het dat dit ekonomiese groei verstik en wêreldwyd nog net baie hartseer en armoede veroorsaak het.
Hierdie onseker beleidsrigting tref veral die landbousektor hard. Suid-Afrikaanse boere funksioneer reeds onder geweldige druk weens hoë insetkoste, infrastruktuurverval en beurtkrag. Wanneer beleid verder onsekerheid oor eiendomsreg skep of internasionale handel benadeel, raak dit direk die land se voedselsekerheid en werksgeleenthede op plattelandse gebiede.
Meneer die President, die land kan eenvoudig nie langer in beleidsvakuum voortploeter nie.
Beleidsduidelikheid is die hoeksteen van beleggingsvertroue en dus van werklike groei. Die ekonomie kan nie herstel as die regering voortgaan om te probeer “begroot vir groei” terwyl die beleidsgrondslag foutief is nie.
Die afgelope drie begrotingsiklusse wys dieselfde patroon:
- Nasionale en plaaslike regerings spandeer minder as wat begroot word, met miljarde wat onbenut bly of verkeerd aangewend word.
- Infrastruktuurprojekte word vertraag of gestaak deur tenderbedrog, burokratiese versuim en gebrek aan kundigheid.
- Die kwaliteit van besteding bly swak, selfs waar die volle begroting aangewend is.
Hierdie patroon dui daarop dat die probleem nie ’n tekort aan geld is nie, maar eerder ’n tekort aan kundigheid, dissipline en aanspreeklikheid is.
Die regering se primêre verantwoordelikhede is eenvoudig:
- Om die veiligheid van sy burgers te verseker, en
- Om ’n beleidsomgewing te skep waarin die privaatsektor met vrymoedigheid graag sal wil besigheid doen. Terloops is dit die wyse hoe ekonomiese groei bewerkstellig word deurdat daar suksesvolle (winsgewende) privaat instellings volhoubaar funksioneer.
Wanneer eiendomsreg en regsekerheid nie beskerm word nie, wanneer infrastruktuur verval en korrupsie onaangeraak bly, word geen begroting, hoe groot ook al, ’n werktuig vir groei nie, dit word bloot ’n oefening in skadebeheer.
TLU SA doen dus ’n ernstige beroep op u, Meneer die President, dat u minister van Finansies met hierdie middeltermyn-begroting ’n duidelike koersverklaring sal maak:
- Bevestig die beskerming van privaat eiendomsreg.
- Erken dat kundigheid, nie politieke lojaliteit nie, die land se instellings moet lei.
- Herstel aanspreeklikheid en dissipline in staatsbestuur.
- En bowenal, bevestig dat Suid-Afrika sy toekoms bou op die beginsels van die vryemark, ondernemingsgees en individuele verantwoordelikheid, nie op die dwalings van ideologiese eksperimentering nie.
Die tyd vir vae beloftes en beleidsdubbelsinnigheid is verby. Vir te lank reeds is die kiesers van Suid-Afrika mislei met valse en onuitvoerbare beloftes, maar is die aanduidings reeds daar dat Suid-Afrika se inwoners tans besef dat die ANC se beleidsrigting inderdaad die oorsaak is dat elke jong mens se toekoms hulle ontneem word indien daar voortgegaan word met die selfverrykende toepassing van ANC-beleid tot nadeel van die kiesers. Die antwoord wat jul sal ontvang by die stembus sal een wees waar elke denkende mens sal wys dat die kiesers van die land nie verder hul verarming en ontneming van geleenthede gaan verduur nie. Die prys van die ANC beleid het inderdaad te duur geword vir die land se inwoners. Die manipulering van die kiesers deur die jare laat mens dink aan die storie van die byl. “Die woud het gekrimp, maar die bome het aanhou stem vir die byl, want die byl was slim en het die bome oortuig dat omdat sy handvatsel van hout gemaak is, hy een van hulle is.”
Daagliks raak die nalatenskap van die ANC se beleid een wat al hoe meer negatiwiteit opwek. Jul het min tyd oor om ten minste jul nasionale en internasionale posisie te heroorweeg. Jul het Suid-Afrika en sy mense nou genoeg gemarginaliseer.
Meneer die President, die verval wat ons tans beleef, het hoofsaaklik in u ampstermyn plaasgevind. Geen leier kan homself losmaak van die gevolge van sy regering se dade of versuime nie. Daar is openlik en blatant gesteel van die publiek se swaarverdiende belastinggelde, ook dié van lojale ANC-kiesers, sonder dat daar enige werklike aanspreeklikheid gevolg het.
Indien u werklik die verantwoordelikheid van u amp besef het, sou u lankal daadwerklik opgetree het teen korrupsie, wanbesteding en swak dienslewering. U dra uiteindelik die verantwoordelikheid vir die verval van staatsinstellings en die verlies aan openbare vertroue. Suid-Afrika verdien ’n leier wat aanspreeklikheid aanvaar, nie een wat wegskram van die gevolge van sy eie regering se beleid nie.
Met eerbied en dringendheid,
TLU SA

