James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Plaaslike Regering Feb 2022

Die eerste kwartaal van elke jaar word gekenmerk deur die Algemene of Aanvullende Waardasierolle wat bekend gemaak word. Die aanpassing met Covid-regulasies het ook ’n invloed op die plaaslike regering aangaande die openbare konsultasie oor besluite en aksies wat geneem word.

Die eienaar van hetsy ’n kleinhoewe, erf of selfs plaas moet kennis neem dat die waardasie op ’n eiendom die moontlikheid inhou om gewysig te word wanneer die waardasierol in die eerste kwartaal beskikbaar gestel word. Die munisipaliteit is veronderstel om die inligting in die plaaslike koerant te plaas sodat elke inwoner van die munisipale gebied kennis daarvan neem en daarvolgens kan optree, maar of dit werklik gebeur, is ’n ope vraag. Verder is die munisipaliteit veronderstel om ’n afskrif van die gewysigde waardasie van die eiendom aan elke inwoner te voorsien hetsy per pos, epos of welke kommunikasie betroubaar is en kan verseker dat die grondeienaar die inligting betyds kan ontvang.

Jy as grondeienaar moet heroorweeg of die aanpassing die werklike waarde van die eiendom weergee soos op die datum van die waardasie. Indien hierdie nie ernstig opgeneem word nie, kan daar NOOIT weer enige regstelling op die spesifieke waardasierol gedoen word nie. Moet dus nie uitstel nie, tree onmiddellik op en hanteer die aangeleentheid. Die grondeienaar het die reg om beswaar aan te teken indien daar baie seker gemaak is dat die waardasie nie die werklike waarde weerspieël nie. Jy moet onthou dat die waardeerder die waarde ook opwaarts kan aanpas indien daar ’n oorsig was en die waarde deur inspeksie gevind word nie voldoende is nie. Jy moet dus nie blindelings net beswaar aanteken met die opinie dat die waarde sal verminder nie.

Die waarde van die eiendom is die grondslag waarop eiendomsbelasting bereken word. ’n Billike en regverdige waardasie van u eiendom is dus van kardinale belang en is die bepalende faktor van die eiendomsbelasting wat toegepas word.

TLU SA wil ’n ernstige beroep doen op elke inwoner en eienaar van eiendom in Suid-Afrika om die waarde van sy/haar eiendom na te gaan waar dit in die waardasierol verskyn. Die belangrikheid hiervan kan nie genoeg beklemtoon word nie. Slegs jy as inwoner en eienaar van eiendom kan deur optrede voorsorg tref dat die keiser nie meer inpalm as wat hom toekom nie.

 

 

Foto Andrea PiacquadioPexels

Kategorie:

Deel dit:

Plaaslike Regering Feb 2022