James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Pres. Ramaphosa vra samewerking, dept. van landbou ondersteun onwaarhede, so hoe nou?

Die tema van samewerking en eenheid was deurgaans duidelik in President Cyril Ramaphosa se toespraak tydens sy inhuldiging op Woensdag 19 Junie in Pretoria. Na ‘n verkiesing waarin geen party ‘n volstrekte meerderheid behaal het nie, het hy beklemtoon dat samewerking tussen partye nou van die grootste belang is. “Ons verbind ons tot die taak van demokratiese hernuwing, maatskaplike en ekonomiese transformasie sodat niemand agtergelaat word nie,” het hy gesê.

Die landbou-organisasie TLU SA meen egter dat hierdie uitsprake oor nie-rassige en nasionale eenheid egter leeg klink wanneer sy ministers kort na die uitspraak verklarings uitreik wat gebaseer is op halwe waarhede, verdraaiings en leuens. “Die onlangse mediaverklaring wat deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling uitgereik is, getiteld ‘Addressing and redressing Colonial Injustice’, stel blanke boere voor as setlaars en spreek met venyn teenoor ons. Dit is onaanvaarbaar en ons verwerp hierdie verklaring,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. 

“Ons wil ons teleurstelling uitspreek oor die trant en eensydigheid van hierdie verklaring wat erge ongetoetste retoriek en verreikende stellings maak wat onwaar en erg skeef gedraai word, en ver van korrekte historiese feite afwyk,” sê Van Zyl. “Dit is welbekend dat indien die vermorste fondse deur die departement as gevolg van mislukte pogings tot grondherverdeling beter belê was in landbou en egte eiendomsreg, eerlike hulp aan alle boere en nuwelinge in die landbou gebied, dan sou dit een van die grootste suksesverhale van Suid-Afrika kon wees.”

Dit is noemenswaardig dat hierdie skerp politieke stelling vanaf die departement van landbou vrygestel is ná die aanstelling van die waarnemende minister van landbou, wat voorheen die minister van water en sanitasie was, en dit blyk asof TLU SA se bedenkinge oor hom reeds binne dae bevestig is. 

TLU SA meen dit is belaglik dat die ANC voortgaan om omstandighede van 111 jaar gelede op te roep wat tóé ‘n totaal ander bevolkingsamestelling en toestande van ontsluiting in Suid-Afrika behels het. “Ons kan praat oor oorloë en wie waar vir wie vermoor en aangeval het, maar daar was geen formele struktuur nie,” sê Van Zyl. “Eiendomsreg was gesetel in die stamhoof, wat deur sy goedgunstige bemiddeling gebruiksreg aan mense gegee het soos dit hom gepas het. Daarom is die storie dat mense van hulle eiendomsreg ontneem is, nie heeltemal korrek nie.” 

TLU SA is van mening dat as die ANC daarop roem dat ons ‘n nie-rassige nasie is en dat dit nou belangrik is dat almal moet saamwerk, ons as landbouorganisasie nie kan saamwerk as departemente met venyn na die landbougemeenskap kyk, wat net positief en konstruktief bydraes tot die land gemaak het nie. Die perspektief wat deur die departement in hierdie mediaverklaring voorgehou word, is eensydig en beloof weereens ‘n pot goud. 

Dit is verder noodsaaklik om die sukseskoers van nuwe eienaars op landbou-eiendomme te rapporteer. Die vraag bly: As die “honger” na grond bevredig is en daar steeds geen welvaart is nie, weens interne konflik onder eisers of onvermoë om landbougrond te bewerk en optimaal te benut, waar sal nuwe beloftes gemaak word en wat is volgende op die lys om die sogenaamde “onregverdighede” van die verlede reg te stel?

Die tyd het aangebreek vir ‘n nie-rassige benadering in landbou, waar elke individu gelyke toegang tot grond het. Diegene wat wil boer moet bereid wees om vrywillig na vore te tree, met die begrip dat landbou nie bloot ‘n korttermynverbintenis of aanvulling op inkomste is nie, maar ‘n lewenslange roeping. Die era van setlaars, voorouerregte en -voorkeure is lankal verby. Die realiteite van landbou en herstel vra nou dat moue opgerol word en skouers teen die wiel gesit word. Dit gaan daaroor om kos op die tafel te sit, en die enigste verantwoordelikheid van die regering behoort te wees om eiendomsregte te erken, ‘n veilige klimaat te skep, en ‘n vrye mark te bevorder.

As die benutting van landbougrond verlore gaan, gaan werksgeleenthede verlore en die ekonomiese impak, wat tans die groei van landbou en die ekonomie ondersteun, sal negatief wees. Dit sal bly: Almal het grond, maar niemand het kos nie. Honger burgers kan nie grond eet nie; hulle het kos nodig.

 

Kategorie:

Deel dit:

Pres. Ramaphosa vra samewerking, dept. van landbou ondersteun onwaarhede, so hoe nou?