Die massa-optog na Roedtan in Limpopo om stem dik te maak teen plaasaanvalle en -moorde was ’n sukses.
Die optog is deur die distrikslandbou-unie in Mokopane (Potgietersrus) gereël om aandag op plaasaanvalle en -moorde te vestig. Die optog het by die hof in Roedtan tot einde gekom waar beskuldigdes aan die moord op boer Nicci Janse van Rensburg vir borgtog aansoek gedoen het. Die borgtogsaak is egter tot Woensdag uitgestel weens beurtkrag in Roedtan.
Mnr. Floris Booysen, voorsitter van die unie wat die optog gereël het, het gesê hulle is meer as tevrede met die hoeveelheid mense wat deel geneem het en die boodskap wat hulle teenwoordigheid oorgedra het.
“Die hof het ook kennis geneem van die gemeenskap se ontevredenheid met die moord weens die teenwoordigheid van mense wat buite die hof bymekaar gekom het,” sê mnr. Booysen.
Verskeie organisasies soos AfriForum en SAAI het saam met TLU SA die protesoptrede ondersteun.
“Dit was ’n spesiale geleentheid om deel van te wees. Dit is hartseer dat dit nodig is, want een plaasaanval en -moord is een te veel, maar ek is bly om te sien hoe die gemeenskap saamstaan teen plaasaanvalle en -moorde,” sê mnr. Henry Geldenhuys, TLU SA President.








