Paaie is die lewensare van ’n land en daarom is TLU SA en ander eendersdenkende organisasies vasbeslote om met ’n oplossing vorendag te kom vir haglike toestand van Suid-Afrika se paaie.
“Dit is vir ons duidelik dat verskeie rolspelers in Suid-Afrika bekommerd is oor die land se paaie en iets daaromtrent wil doen. Dit is om die rede wat TLU SA ’n brief aan verskeie organisasies gestuur het om voor te stel dat ons kragte saamspan om ’n oplossing te probeer vind,” het mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder gesê.
“In die skrywe het ons dit duidelik gestel dat die regering oor tyd heen nie die nodige aandag aan die instandhouding van die infrastruktuur gee nie. TLU SA is van mening dat ’n kollektiewe poging om die saak aan te spreek en ’n gesamentlike strategie daar te stel nodig is om beter uitkomste te bied as wat ons elkeen tans op ons eie lapwerk doen. Die regsaanspreeklikheid indien iemand ’n pad herstel sal uitgeklaar moet word, sowel as die moontlike verhaling van kostes aangegaan indien die staat nie sy verantwoordelikheid na behore na kom nie. Dit is vir ons belangrik dat almal ’n stem moet hê in die proses en ons wil almal se stem hoor in poging om met ’n oplossing vorendag te kom.”
Daar was al heelwat positiewe terugvoer op die brief. Die samesprekings gaan op 3 Junie geskied en TLU SA nooi dié wat bydrae wil lewer uit om epos aan sekretaresse@tlu.co.za te stuur om bywoning te bevestig.
“Ek is oortuig daarvan as ons almal saamspan ons heelwat meer wringkrag gaan hê om oplossing te bewerkstellig.”








