Terwyl TLU SA uitsien na president Cyril Ramaphosa se toespraak tydens die opening van die nuwe parlement, wil dié landbou-organisasie die noodsaaklikheid om sterker ekonomiese oorwegings toe te pas en gesonde beginsels te implementeer vir volhoubare ekonomiese groei, beklemtoon.
Die afgelope 30 jaar van ideologiese oorheersing het ‘n kultuur van aanspraak en afhanklikheid geskep, sonder ‘n gepaardgaande sin vir verantwoordelikheid. TLU SA dring daarop aan dat president Ramaphosa die burgers van Suid-Afrika moet lei na verantwoordelikheid en verduidelik wat nodig is om ekonomies aktief te wees en by te dra tot winsgewende ondernemings.
Verder moet die staat kwaliteit onderrig bied om burgers behoorlik te oriënteer oor volhoubare produksie en die pad vorentoe. Oor die afgelope 30 jaar het die staat ons gefaal, met ‘n geleidelike toename in misdaad wat uiteindelik beheer oorgeneem het. ‘n Veilige omgewing is noodsaaklik vir besigheidsbedrywighede, leefstyl, werk, en kultuuruitdrukking.
“Die fokus moet wees op algehele ekonomiese groei, eerder as om net sekere individue te bemagtig. As die staat nie ‘n omgewing skep waarin werksgeleenthede gegenereer word en mense onafhanklik kan werk sonder om op maatskaplike toelaes te steun nie, sal daar geen werklike vordering wees nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Bemagtiging begin by die individu, maar die staat moet die nodige ondersteunende omgewing skep.”
TLU SA meen president Ramaphosa moet die verantwoordelikheid op Suid-Afrikaanse burgers plaas om aktief deel te neem aan die ekonomie. Hy moet ophou om beloftes te maak aan mense wat nie bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar nie.
Die Regering van Nasionale Eenheid het onlangs bevestig dat transformasie steeds een van sy hoofdoelwitte is, maar TLU SA glo dat die tipe transformasie wat in die laaste 30 jaar plaasgevind het, groot skade aangerig het. “Baie werkende instellings het in hierdie tydperk disfunksioneel geraak, en Suid-Afrika het hieronder gely. Die enigste manier waarop transformasie suksesvol kan wees, is deur mense beter toe te rus vir besluitneming met kwaliteit opleiding en onderrig, en deur ‘n kultuur van spaar en bou in ‘n veilige omgewing te bevorder.”
Die onlangse verkiesingsuitslae toon duidelik dat Suid-Afrikaners ontevrede is met die ANC se beleid oor die afgelope 30 jaar. Ons ekonomie, infrastruktuur en veiligheid het agteruitgegaan, en ‘n ongewensde omgewing is geskep.
Ekonomiese volhoubaarheid sal slegs slaag in ‘n absolute vryemark-omgewing met die minimum wetgewing en regulering wat ondernemerskap demp. Daarom sien TLU SA uit na “die bevryding” van die ekonomie.
“As ons voortgaan op die pad wat die ANC voorskryf, wag daar moeilikheid. ‘n Duidelike keuse moet gemaak word vir privaat eienaarskap en ‘n vryemarkekonomie waar markkragte effektief kan funksioneer,” sê Van Zyl. “Suid-Afrikaners het nou geleenthede nodig, nie nóg hartseer en armoede nie.”