Met die middeltermyn-begroting wat op 12 November 2025 om 14:00 aangebied word, sê TLU SA dat die grootste deel van Suid-Afrika se probleme, misdaad, vervalle infrastruktuur en ’n gebrek aan kundigheid, alles teruggevoer kan word na die beleidsomgewing.
“Die regering van nasionale eenheid moet nou klinkklaar verklaar watter koers Suid-Afrika gaan volg,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Is ons op ’n trajek van privaat eiendomsreg en die vryemark, waar mense die verantwoordelikheid aanvaar om binne daardie ruimte betrokke te wees en die geleentheid het om welvaart te skep? Of gaan ons voort met sosialisties-kommunistiese geïnspireerde uitkomste wat belegging ontmoedig en mense daarvan weerhou om deel te neem aan die ekonomie?”
Volgens TLU SA is hierdie beleidsduidelikheid die beginpunt van enige werklike ekonomiese herstel. “As ons aanhou om hierdie sosialistiese speelveld te handhaaf, is ons bitter ver van groei af, en ons gaan eenvoudig nie daar uitkom nie,” sê Van Zyl.
TLU SA beklemtoon dat die ekonomiese beskouing waarop Suid-Afrika se beleid berus, eerstens uitgeklaar moet word voordat daar oor begrotings of nuwe inisiatiewe gepraat kan word. “Ons kan nie die ekonomie groei deur geld agter teorieë aan te gooi terwyl die praktyk en beginsels verkeerd is nie. Dit is tyd dat die regering eerlik erken watter rigting hy werklik nastreef.”
Oor die afgelope paar jaar sien ons ’n bestendige patroon in die uitvoering van begrotings: die geld wat begroot word, bereik eenvoudig nie die beoogde uitkomste nie. In 2022/23 het die nasionale regering ongeveer R2.06 triljoen begroot, maar uiteindelik is sowat R60 miljard minder bestee. Terwyl skuld-dienskoste en salarisse gestyg het, het infrastruktuur- en kapitaalprojekte agtergebly. Provinsies het wel naby aan 99% van hul begrotings bestee, maar die kwaliteit van besteding, veral in onderwys- en gesondheidsinfrastruktuur, het swak gebly. Intussen het munisipaliteite ’n onderspandering van nagenoeg R58 miljard getoon, met meer as 40% van hulle wat op onbefondsde begrotings opgetree het.
Presies dieselfde tendens het in 2023/24 voortgeduur. Die nasionale regering het weer minder bestee as wat begroot is, hierdie keer om en by R70 miljard, met tendervertragings en administratiewe foute wat ontwikkeling direk vertraag het. Provinsies het hul lopende uitgawes uitgevoer, maar kapitaalbelegging het weereens stagneer. Op plaaslike vlak het die finansiële bestuur verder agteruitgegaan, met meer as R50 miljard wat nie bestee is nie en toenemende wanbesteding wat deur die Ouditeur-Generaal uitgewys is.
Selfs in 2024/25, met die fiskale jaar nog aan die gang, wys vroeë syfers dat onderspandering en swak invordering by munisipaliteite verder toeneem. Dit beteken dat infrastruktuur, dienslewering en plaaslike ekonomiese aktiwiteit nog meer onder druk kom. Die patroon is onmiskenbaar: die probleem is nie ’n tekort aan geld nie, maar ’n tekort aan kundigheid, bestuur en aanspreeklikheid.
Van Zyl sê die verlies aan kundigheid in sleutelposisies is ’n direkte gevolg van verkeerde beleidskeuses. “In plaas daarvan om aan te hou met die rassespel, moet ons begin om die kundigheidspel te speel, deur mense aan te stel wat die werk kan doen en bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar. Sonder kundigheid en dissipline sal geen begroting suksesvol wees nie.”
TLU SA vra ook dat daar krities gekyk word na vorige begrotingsuitkomste. “Hoeveel van die geld wat al begroot is, het nie iewers in ’n onregmatige tender verdwyn sonder enige resultate nie?” vra Van Zyl. “Ons kan nie aanhou om begrotings te prys as instrumente van groei terwyl die regering nie sy eie grondwetlike verantwoordelikhede nakom nie, naamlik om veiligheid, regsekerheid, infrastruktuuronderhoud en ’n gesonde beleggingsklimaat te verseker nie.”
Van Zyl sê die begroting sal slegs sin maak as dit op regte beginsels berus. “As ons nie die beleid, die kundigheid en die morele ruggraat herstel nie, mors ons net tyd en geld. Dan bly Suid-Afrika vasgevang in teorieë, terwyl die werklikheid al dieper in verval gaan,” sluit hy af.

