Kersfeestyd. Familietyd, Vrede en vreugde.
Met ’n lied in jou hart maak jy jou eposse oop. Daar is ’n epos vanaf SARS met ’n sin wat aandui dat daar korrespondensie vir jou aandag is. Om te weet wat die korrespondensie behels moet jy in jou E-filing inteken. Waarom die mense nie net vir jou die brief kan aanheg waaroor die korrespondensie gaan nie verstaan geen belastingbetaler nie. Maar dis ’n ergernis – amper soos die doring van ’n onkruid in jou kous…die ding krap en krap totdat jy later aan niks meer kan dink as om daardie irritasie te verwyder nie.
Wanneer jy jou eposse oopmaak kan jy een van die volgende twee briewe verwag:
“You have been selected for a verification”, of “You have been selected for an audit”
Die verifikasie word gedoen om te bepaal of daar gronde vir ’n oudit is. Soms word daar ’n oudit gedoen sonder dat daar eers ’n verifikasie was. Indien jy wonder: “Waarom ek, wat op aarde het ek gedoen om dit te verdien?” SARS mag ’n oudit uitvoer op enige tyd wat SARS van opinie is dat dit nodig is vir die regte hantering van belasting administrasie. Beperk tot fyndruk, is die kort en die lank – SARS mag jou ter eniger tyd oudit.
Jy het regte tydens ’n oudit. Indien van jou regte geskend word, mag die oudit en gevolgtrekking bloot geïgnoreer word aangesien dit onkonstitusioneel is en/of die belasting Administrasie Wet oortree. Dit is dan net daar die einde van jou smarte.
Hiermee ’n opsomming van jou regte voor en tydens die oudit:
- SARS moet jou skriftelik inlig wanneer die oudit begin. Die kennisgewing moet die volgende bevat:
- Wanneer gaan die oudit begin,
- Die basis waarop jy geselekteer is, met ander woorde, waarom juis jy spesifiek gekies is,
- ’n verklaring wat aandui wat die oudit gaan behels, insluitend die tipe belastings en periodes onder oudit,
- ’n kort verduideliking van die proses en stappe wat verwag kan word,
- Enige ander inligting wat toepaslik is vir hierdie spesifieke saak.
- SARS moet skriftelike vorderingsverslae aan jou verskaf binne 90 dae. Daarna moet jy ’n vorderingsverslag ontvang elke 90 dae of tot die datum van afhandeling van die oudit, watter datum ook al eerste is. Die kennisgewing moet die volgende bevat:
- ’n beskrywing van die omvang van die oudit,
- Die vlak van afhandeling van die oudit,
- Inligting wat nog uitstaande is
Dit is raadsaam om ‘n professionele persoon met belasting ervaring op hierdie stadium te gebruik. Die gehalte van dokumente wat ingedien word asook administratiewe hantering is punte wat krities is om jou regte te beskerm. Die praktisyn sal dan die nodige stappe neem. Indien jy nie ’n belastingpraktisyn het wat in jou beste belang kan optree nie is jy welkom om ons te skakel by 0861115227. Ons is gerieflik geleë in die TLU SA Gebou in Silverton.
Opgestel deur Marica Gerber van Camira Geregistreerde Rekenmeesters en Ouditeure, TLU SA Gebou, Silverton, tel: 0861115227.
Hierdie artikel is opgestel volgens inligting aan ons beskikbaar en ons eie ervaring. Dit verteenwoordig nie die standpunt van SARS of enige iemand anders nie.