Die voortslepende energiekrisis in Suid-Afrika kos besighede miljoene rande in inkomste en bykomende uitgawes. Die Buro vir Ekonomiese Navorsing, waarsku oor die reuse-impak van beurtkrag op vervaardigingsmaatskappye en op die land se voedselverskaffing, mynbou-aktiwiteite en winkelsentrums. Die verliese in die landbou- en mynbousektore styg al hoe hoër.
Die landboubedryf en besighede soek na alternatiewe oplossings om volhoubaar te bly.
Son SA, saam met verskeie sleutel rolspelers in Suid-Afrika, neem die inisiatief met die dringende aanbieding van ‘n Energiekonferensie op Woensdag, 8 Maart. Die doel van hierdie konferensie is om die bestaande uitdagings te ontleed en met daadwerklike uitkomste en oplossings vorendag te kom.
“Ons wil saam graag lesse leer by mense en besighede wat alternatiewe oplossings beproef het, en daaruit oplossings bied vir dié wat dit nog nie onderneem het nie,” sê Juan Tomlinson, uitvoerende hoof van Son SA. “Suid-Afrikaners moet besef dat beurtkrag, die uitdagings en impak wat dit tot gevolg het, nie vinnig opgelos gaan word nie. Die enigste vooruitsig is om alternatiewe oplossings te ondersoek en dan die die eerste keer die regte besluite te neem.”
SON SA is ‘n nasionale inisiatief van Agri X wat ondersteun word deur organisasies soos SAAI en TLU SA. Die inisiatief ondersoek die behoefte en oplossings tot alternatiewe elektrisiteitverskaffing. Daar word uitgereik na landbou- en ander organisasies, verskaffers en bedryfsliggame om die beste moontlike uitkomste uit te lig.
Tydens die Son SA Energiekonferensie sal die Suid-Afrikaanse Energieraad, Eskom, die Suid-Afrika Onafhanklike Kragvoorsieners Vereniging, LoadsheddingreadySA, SAPVIA, Fedgroup, AfriForum, die WNNR en ander energiekenners saam met die betrokke landbouorganisasies, boere en verskaffers gevallestudies deel en oplossings voorstel.
Die volledige program is op die Son SA se webbladsy beskibaar: www.sonsa.co.za
Enige belangstellendes kan die geleentheid bywoon:
Datum: Woensdag, 8 Maart 2023
Tyd: 7:30 tot 18:30
Plek: NG Kerk Lynnwood, Sussex-weg, Lynnwood, Pretoria
Koste: R750
Registrasie: Klik op die skakel www.sonsa.co.za om aanlyn te registreer en te betaal.
Daar is ook beperkte aantal uitstalgeleenthede beskibaar vir verskaffers wat hulle produkte ten toon wil stel.








