Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

In sy eerste mediumtermynbegrotingsrede het Minister van Finansies, Mnr. Enoch Godonwana, die belangrikheid van die privaatsektor verskeie kere uitgewys, maar Suid-Afrika se beleidsomgewing skep egter nie ’n vertrouensomgewing vir dié sektor nie.

Mnr Godonwana soek privaatsektor beleggings, vennootskappe om befondsinggapings vir verskeie projekte van die Ekonomiese Herbou en Herstelplan te vul en hulp om die land se werkloosheidkrisis aan te spreek.

“As die regering die privaatsektor se hulp nodig het, moet hy dié sektor se hande losmaak met ’n beleidsomgewing wat vertroue inboesem. Daar is dan nie meer plek vir dinge soos onteiening sonder vergoeding nie, ook moet weggedoen word met SEB wat inderdaad kader-ontplooiing impliseer wat kundigheid tekorte veroorsaak,” het Mnr. Bennie van Zyl, TLU SA se Hoofbestuurder gesê in reaksie op die mediumtermynbegrotingsrede.

“Die regering hou daarvan om stellings te maak soos strukturele hervormings in die ekonomie. Wat word daarmee bedoel? Is dit om na gesentraliseerde sosialisme en kommunisme te beweeg? Of is dit om in ’n omgewing van privaatbesitreg en mark gerigte ekonomie die nodige aanpassings te maak en so vertroue te skep vir entrepreneurs om positief te wees en om aktief in die ekonomie betrokke te raak?”

Mnr. Van Zyl is dankbaar vir die aankondigings oor die belangrikheid om korrupsie, misdaad, deursigtige tenders, opleiding aan te spreek.

Dit is egter die feit dat sowat 27.8 miljoen mense in die land sosiale toelaes ontvang, wat die rooiligte laat flikker.

“Die hoeveelheid sosiale toelae is buite perke. Dit is nie volhoubaar nie gegewe die swak ekonomiese groei, die land se skuldlas en rommelstatus. Die regering moet besef  jy kan net iets uitdeel, as jy dit self het! Die regering is inderdaad besig om in die praktyk ons land in ’n sosialistiese bestel in te bestuur.”

Mnr. Van Zyl was ook bly om die verwysings na die stabiele energievoorsiening te sien.

“Dit is baie belangrik dat die privaatsektor so gou as moontlik met gemak betrokke raak in die opwekking van elektrisiteit. Dit is wat die verskil gaan maak.”

Die land se skulddienskoste is nie-diskresionêr – met ander woorde, ons kan nie vermy om dit te betaal nie. Die effek daarvan is dus ander bestedingsprioriteite word afgeskeep. Skulddienskoste sal na verwagting van R269,2 miljard in 2021/22 tot R365,8 miljard in 2024/25 styg. Dit is hoër as die begroting vir gesondheid en polisiedienste.

’n Positiewe aspek volgens die Minister is die belastinginvordering wat op kort termyn verwagtinge oortref het. Inkomste vir 2021/22 word nou geraam om R1.5 triljoen te bereik, vergeleke met R1.4 triljoen ten tyde van die 2021-begroting in Februarie. Dit is ‘n opwaartse hersiening van R120,3 miljard.

Daar is ook bykomende befondsing aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en die Polisiedienste toegeken.

Daar is oor die algemeen gevoel dat die regte kwessies geïdentifiseer is, maar of die regering die vermoë het om te kan lewer – inaggenome jarelange kader-ontplooiing – word bevraagteken.