Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

Die landboubedryf het tot dusver vanjaar onder 26 plaasmoorde en 141 plaasaanvalle deurgeloop. Dit blyk egter dat TLU SA se raad oor beveiliging en paraatheid bydra om plaasbewoners teen moord te beskerm.

 

“Dit is duidelik dat effektiewe weerstand en die toepassing van noodweer beginsels tot gevolg gehad het dat etlike aanvallers doodgeskiet is of ernstige skietwonde opgedoen het,” sê genl.maj. Chris van Zyl, TLU SA se adjunk-hoofbestuurder. “Dit getuig van boere wat sodanige vlakke van paraatheid gehandhaaf het, dat die aanvallers nie in staat was om hulle te verras en onkant te betrap nie. ‘n Bewustheid van vreemde of onnatuurlike aanduidings en onmiddellike toegang tot ‘n vuurwapen het onskuldige lewensverlies en ernstige beserings verhoed.”

 

Daar was ‘n afname in geweldsmisdade toe die inperkingsmaatreëls van krag geword het. TLU SA het tussen Januarie en Maart vanjaar, 71 aanvalle en 14 moorde aangeteken.  Sedertdien is daar egter ‘n styging van geweldsmisdade tot dieselfde vlakke as voor die inperking, en tussen April en Junie was daar reeds weer 68 aanvalle en 12 moorde onder die boeregemeentskap gepleeg.

 

“Die baie hoë vlakke van geweld teen slagoffers is buite verband met die ooglopende motiewe soos roof en diefstal van kontant, vuurwapens en verhandelbare goedere soos rekenaars en selfone,” sê genl.maj. Van Zyl. “Georganiseerde landbou beskik nie oor die kapasiteit om hofsake van begin tot einde te moniteer om te bevestig wat die ware motiewe in aanvalle was nie.

 

“Die analise van vermoorde slagoffers dui onteenseglik daarop dat wit boere, gesinne en plaaswerkers meer as tweederdes van vermoorde slagoffers uitmaak. Die besondere hoë vlakke van geweld en onbeskaamde marteling getuig van ‘n hoë vlak van rassehaat wat ons baie bekommerd stem.”

 

TLU SA doen ‘n beroep op boere om paraat te wees en in Plaaswagte saam te werk om plaasveiligheid te versterk. Ofskoon plaasaanvalle steeds ‘n prioriteitsmisdaad is, word daar nie soveel personeel aan dié misdade toegewys as wat ander prioriteitsmisdade ontvang nie. Die bron van die probleem is die regering se tekort aan wil om die lewens van boere te beskerm.

 

Uitgereik deur:          TLU SA

 

Datum:                       6 Julie 2020

 

Navrae:                       Genl.maj Chris van Zyl (aft), Adjunk hoofbestuurder TLU SA

                                    Sel.: 082 461 7262

 

Mnr. Henry Geldenhuys, Voorsitter TLU SA Veiligheidskomitee,

                                    Sel.: 072 716 9299

Sluit aan

Nuusbriewe
Checkboxes

Kontak Ons