Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

Die  proses rondom die staatsbegroting het ontaard in ‘n politiekery terwyl dit eintlik oor finansies, die fiskus, spandering van staatsdepartemente en hoe dit die inwoners van die land tot voordeel moet strek behoort te handel, meen TLU SA.
 
“Enige besigheid se begroting het ‘n inkomste- en uitgawekolom,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “In teorie behoort die uitgawes en staatskuld onderhewig te wees aan die staat se inkomste.
 
“Die belangrikste komponent van die begrotingsrede is om verslag te doen oor die vorige jaar se spandering van die staatsinkomste,” sê hy. “Dit moet gemeet word aan uitkomste en nie aan die blote spandering van fondse nie. Daaruit moet beplanning gedoen word oor hoe fondse in die nuwe boekjaar in die beste belang van die land in inwoners spandeer moet word.
 
“Die proses kan net effektief funksioneer indien kundige staatsamptenare hul dagtake met groot verantwoordelikheid en integriteit uitvoer,” sê mnr. Meintjes. “Maar ongelukkig het die staatsdiens as gevolg van swart ekonomiese bemagtiging bloot ‘n plek geword om massas mense te akkommodeer en met groot salarisse te vergoed. Van produktiwiteit en effektiwiteit is daar redelik min sprake.”
 
In terme van die begroting het die minister van finansies, mnr. Tito Mboweni nie baie beweegruimte nie. Nietemen, sal TLU SA graag wil hoor dat hy aandag skenk aan die volgende sake:

  • Sterk uitsprake oor die belangrikheid van privaat besitreg om beleggersvertroue te herstel;
  • Staak korrupsie in staatsinstellings en vennote;
  • Besnoeiing van uitgawes soos staatsalarisse – ten spyte van die alliansievennote se eise – in die plek van verhoogde inkomste uit bv. belastings;
  • Geen verdere finansiële ondersteuning vir sukkelende staatsinstellings soos SAL en Prasa nie;
  • Beperkte hulp aan Eskom op voorwaarde van herstel van effektiwiteit;
  • Streng kriteria vir opleiding met die middele om dit deur te voer;
  • Effektiewe rampbestuurplanne om die voortbestaan van landelike gemeenskappe te verseker. ‘n Produktiewe landbousektor is die grootste stabiliserende faktor hiervoor;

“Die begrotingsrede sal waarskynlik vol mooi woorde en slim planne wees,” sê mnr. Meintjes. “Maar al wat die minister hoef te doen, is om hom te laat rig deur ekonomiese beginsels. Toets elke voorstel en besluit oor die begroting teen die effek daarvan op ekonomiese groei.
 
“Moody’s staan by die deur en wag mnr. Mboweni,” sê mnr. Meintjes. “Koue, klinies-korrekte ekonomiese optrede en uitsprake is nodig om kredietreguleerders te oortuig om die land nog ‘n kans te gee. Jy het net een kans mnr. Mboweni. Ons hoop dat die land se voorspoed swaarder sal weeg as politieke guns.”