“Identifiseer die probleem, noem dit by die naam en vind die oplossings.”
Die hoofbestuurder van TLU SA, Bennie van Zyl, sê dit was opvallend deurentyd die boodskap van sprekers by TLU SA se 2023 Kongres wat op 6 September by die Voortrekkermonument aangebied is. Dit is die eerste kongres sedert die inperking wat weer op die tradisionele skaal aangebied is, en sowat 200 afgevaardigdes het die geleentheid bygewoon.
Die tema van die kongres: “Die Vier Seisoene van Landbou”, was simbolies van die verskillende seisoene in ‘n boer se lewe, hetsy klimatologies, as mens, ekonomies of polities.
Die president van TLU SA, Henry Geldenhuys, het boere geprys vir hul aanpasbaarheid deur al hierdie seisoene. “In baie gevalle gebruik ons baie energie om die simptome van die uitdagings in Suid-Afrika te ‘bestuur’. Maar identifiseer en analiseer ons die oorsake van die probleme korrek? Afgesien van die klimatologiese werklikhede wat die land in die gesig staar, kan baie min van die uitdagings nie toegeskryf word aan die ongesonde beleidsomgewing van die regering nie,” het hy gesê.
Geldenhuys het die regering se Landboumeesterplan beskryf as ‘n uitstekende voorbeeld van hoe beleid ekonomiese resultate oorskry – wat noodsaaklik is om landbou volhoubaar te hou – en hoe TLU SA nie sal terugstaan en die plan aanvaar soos dit nou staan nie.
Die Direkteur-Generaal van die Departement Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mooketsa Ramasodi het ook die kongres bygewoon en tydens sy spreekbeurt gesê die regering reik ‘n hand uit na TLU SA om saam te werk aan die Landboumeesterplan. Hy meen hulle streef na volhoubaarheid en dat samewerking regoor die land en verskeie sektore nodig is om dit te bereik.
Die gassprekers het gepraat oor die mees kritieke uitdagings in die landbou, en lewendige gesprekke het elke spreker gevolg.
Prof. Johan Willemse, ‘n landbou-ekonoom by Agrimark Konsultante, het gepraat oor die toekoms van landbou en volhoubare voedselproduksie in die lig van die ekonomiese werklikhede in Suid-Afrika. Hy het gesê dat boere die speelveld moet evalueer en as hulle die uitdagings ken, sal hulle beter oplossings kan vind.
Jaco Schoeman, voorsitter van TLU SA se Nasionale Staande Komitee vir Eiendomsreg, het gekyk na hoe TLU SA die toenemende bedreiging vir private eiendomsregte kan neutraliseer en hoe hierdie regte die grondslag vir stabiliteit in die land moet wees.
Die uitvoerende hoof van Sakeliga, Piet le Roux, het bespreek hoe die samewerking tussen landbou en handelskamers geleenthede kan skep en tot volhoubaarheid kan lei.
Die direkteur van gemeenskapveiligheid by Action Society, Ian Cameron, het gepraat oor die individuele en gemeenskaplike opsies vir beveiliging en volhoubare voedselproduksie. Hy het sy toespraak begin deur ‘n oomblik van stilte vir die mense wat deur plaasaanvalle geraak is, te vra en die stilte was treffend. Hy het verder verduidelik dat jy ‘n visie vir jouself, jou familie en jou gemeenskap met betrekking tot veiligheid moet hê. Hy het gesê die ideale uitgangspunt is dat mens groot moet dink, maar klein moet begin.
Die Direkteur van Helpende Hand, Hannes Noëth, het afgevaardigdes raad gegee oor die beste oplossings om die armoede van diegene wat nie deur die staat bygestaan word, as gevolg van diskriminasie, nie te verlig, terwyl ‘n realistiese toekomstige verwagting deur opvoeding, kreatiewe denke en volharding geskep word.
Verder het die Jong Boere ‘n boodskap van hoop gegee en die landboubedryf gevra om positief te bly.
Die afgevaardigdes is ook tydens die kongres bekendgestel aan TLU SA se splinternuwe webwerf by www.tlu.co.za wat nou baie meer gebruikersvriendelik en doelgerig is.
Beide Henry Geldenhuys en Wannie Scribante is herverkies as onderskeidelik die president en adjunk-president van TLU SA. Die onderskeie streke deur die land se voorsitters word in streekverband verkies en is dit reeds grootliks afgehandel.
Volg hierdie skakel om spesifieke toekennings van die Kongres te sien.