Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

Die uitsprake van Pres. Cyril Ramaphosa dat die ANC nie ‘n beleid van nasionalisering voorstaan nie, stel TLU SA glad nie gerus dat alle grond (en ander eiendom) nie uiteindelik in staatsbesit sal wees nie.

Pres. Ramaphosa het na die repliek oor die presidensiële begroting gesê dat die ANC wil hê dat mense grond in Suid-Afrika moet besit en nie die staat nie. Dié kwessie het vandeesweek na vore getree nadat die ANC en EFF tydens ‘n sitting van die ad hoc-komitee oor die wysiging van art. 25 van die Grondwet nuwe wysigings voorgestel het. Die voorstelle handel oor die staatsvoogdyskap oor grond, die afsnydatum vir restitusie-eise en die rol van howe oor vergoeding.

“Wat is werklik die verskil tussen nasionalisering en onteiening sonder vergoeding,” vra Mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Met nasionalisering word alle grond op een slag weggeneem van die wettige eienaars. Met onteiening sonder vergoeding – teen ‘n nul-koers – word alle grond stuk-stuk weggeneem van die wettige eienaars. Oor vyf of tien jaar gaan daar geen verskil wees in eienaarskap nie.”

Die staat het reeds bewys, met die voogdyskap oor waterbronne, dat dit nie opgewasse is om die taak verantwoordelik te bestuur en te beheer nie. Dit is duidelik in die besoedelde waterbronne, swak kwaliteit water en die tekortkominge in voorsiening van water vir menslike gebruik. Mense moet nou uit eie fondse water aankoop sonder enige verligting of bystand van die staat. Dit is verdoemend as die staat verder voogdyskap oor alles wil implementeer.

“Die nuwe wending van voogdyskap moet ernstig besin word,” sê mnr. Geldenhuys. “Kyk na die gevolge van sulke besluite. Die ekonomie taan en beleggersvertroue word geknou. Pas ‘n week gelede het S & P en Fitch die land se kredietgradering weer op BB-vlak gestel. Hoewel die onveranderd is, is dit beslis nie goed nie. Vandeesweek het Statistieke SA berig dat werkloosheid vir die derde agtereenvolgende kwartaal ‘n rekord hoogtepunt bereik het. Dit staan op 43%.

“Die regering versuim om die verpligting van die staat na te kom. Verdere wysigings steel die geleentheid vir groei en inderdaad elke burger in die land se toekoms.”

 

Uitgereik deur:          TLU SA

Datum:                       4 Junie 2021

Navrae:                       Mnr Henry Geldenhuys, President TLU SA,

                                    Sel.: 083 560 1273

Mnr Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA,

                                    Sel.: 082 466 4470

Sluit aan

Nuusbriewe
Checkboxes

Kontak Ons