TLU SA neem kennis van die uitspraak van die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria in die saak teen die Minister en Departement van Water en Sanitasie rakende uitstaande watergebruikheffings en die toepassing van verjaring daarop.
Hoewel die hof die aansoek om verklarende regshulp van die hand gewys het, bly belangrike regsvrae oor die toepassing van verjaring op watergebruikheffings volgens TLU SA onbeantwoord. TLU SA het die saak ter ondersteuning van Sakeliga ondersteun, wat die leiding in die regsgeding neem, aangesien die uitkoms daarvan ook belangrike implikasies vir landbouers en TLU SA-lede kan hê.
Die saak is gebring om onder meer duidelikheid te verkry oor die tydperk waarbinne uitstaande watergebruikheffings deur die staat verhaal kan word. Die applikante het aangevoer dat watergebruikheffings ingevolge die Nasionale Waterwet aan die gewone driejaar-verjaringstydperk ingevolge die Verjaringswet onderhewig behoort te wees.
Die hof het egter nie ’n verklarende bevel oor dié vraag toegestaan nie. Die hof het onder meer bevind dat die kwessie van verjaring eers behoorlik ter sprake kom wanneer ’n eis ingestel is en verjaring as verweer geopper word.
Volgens TLU SA laat dit ’n belangrike praktiese vraag vir landbouers steeds onbeantwoord.
“Boere moet met sekerheid kan bepaal waarvoor hulle aanspreeklik gehou word, hoe ’n bedrag bereken is en hoe ver terug die staat daarop geregtig is om betaling te eis. Regsekerheid is noodsaaklik, veral waar aansienlike historiese bedrae ter sprake is,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
’n Belangrike deel van die uitspraak is dat die Departement van Water en Sanitasie gelas is om die betrokke applikante binne 60 kalenderdae van volledige state, tesame met alle relevante fakture vir die betrokke rekeninge, te voorsien.
TLU SA verwelkom hierdie gedeelte van die uitspraak. Watergebruikers moet oor voldoende inligting beskik om die korrektheid van bedrae wat van hulle geëis word, te kan bepaal. Dit sluit in waarvoor die bedrag gehef is, die tydperk waarop dit betrekking het en hoe die bedrag saamgestel is.
“Wanneer die staat betaling eis, moet die grondslag van daardie eis duidelik en behoorlik uiteengesit kan word. Landbouers kan nie verwag word om historiese bedrae bloot te aanvaar sonder dat die nodige besonderhede en dokumentasie beskikbaar gestel word nie,” sê Van Zyl.
TLU SA se regsadvies ná die uitspraak dui daarop dat daar argumenteerbare gronde bestaan om die hof se benadering tot die verjaringskwessie op appèl te laat toets. Die moontlike appèl handel hoofsaaklik oor die toepassing en interpretasie van die reg, eerder as ’n geskil oor die feite.
Sakeliga, wat die leiding in die aangeleentheid neem, het besluit om teen die uitspraak te appelleer. TLU SA ondersteun hierdie besluit en sal, in samewerking met Sakeliga, deel bly van die verdere regsproses. Vir TLU SA is dit belangrik dat die regsvraag rondom verjaring behoorlik getoets word en dat groter regsekerheid vir watergebruikers verkry word.
Vir TLU SA strek die belang van die aangeleentheid verder as die individuele rekeninge wat tans ter sprake is. ’n Duidelike en konsekwente regsposisie oor watergebruikheffings en verjaring is belangrik vir landbouers se finansiële beplanning en vir behoorlike administrasie deur die staat.
“TLU SA se uitgangspunt is nie dat regmatige rekeninge nie betaal moet word nie. Ons uitgangspunt is dat enige bedrag wat geëis word, korrek bereken, behoorlik gemotiveer en binne die toepaslike regsraamwerk verhaal moet word. Waar daar onsekerheid oor daardie regsraamwerk bestaan, behoort dit behoorlik uitgeklaar te word,” sê Van Zyl.
TLU SA sal daarom, in samewerking met Sakeliga en ter ondersteuning van die verdere regsproses, teen die uitspraak appelleer. Sakeliga sal steeds die leiding in die aangeleentheid neem, met TLU SA wat die proses ondersteun in belang van sy lede en die breër landbougemeenskap. Die doel bly om groter regsekerheid oor watergebruikheffings, die toepassing van verjaring en die verantwoordbare administrasie daarvan te verkry.









