Die Oos-Kaapstreek van TLU SA het Maandagoggend, 9 Junie, ’n inligtingskonferensie gehou waartydens kernkwessies wat die landbousektor direk raak, bespreek is. Die fokus het geval op eiendomsreg, landelike veiligheid, volhoubare landboufinansiering en die noodsaaklikheid van beginselvaste beleid om werklike ekonomiese vooruitgang te verseker.
TLU SA het tydens die konferensie beklemtoon dat eiendomsreg die ruggraat van ’n funksionerende ekonomie is. Sonder duidelike en beskermde regte op besit, kan geen langtermynbelegging of volhoubare ontwikkeling plaasvind nie. Die afbreek van hierdie grondbeginsel het gevolge wat veel verder strek as net grondkwessies, dit raak ook aan die breër konsep van vryheid en selfbeskikking. Daar is ook verwys na die manier waarop die reg op taal, kultuur, outeursreg en intellektuele eiendom al hoe meer onder druk kom.
Landelike veiligheid, en spesifiek die aanhoudende toename in veediefstal, is as een van die grootste uitdagings vir produsente in die Oos-Kaap uitgelig. Boere word daagliks gekonfronteer met die werklikheid van georganiseerde misdaad, dikwels sonder voldoende ondersteuning van die staat of wetstoepassers. Daar is ook bespreek hoe gemeenskappe, veiligheidstrukture en die privaatsektor beter kan saamwerk om proaktief op te tree waar die staat faal.
’n Ander belangrike punt van bespreking was landboufinansiering, wat toenemend problematies raak in ’n omgewing waar produksierisiko’s hoër word en toegang tot lenings en kontantvloeibronne afneem. Veral in gevalle waar faktore buite boere se beheer soos bek- en klouseer uitbreek, of ander produksierisiko’s inkom, is daar ’n dringende behoefte aan meer buigsaamheid van finansiële instellings. ’n Versugting is uitgespreek dat instellings wat die landbousektor finansier, die werklikhede van boere se omstandighede in ag neem, en ’n meer menslike, realistiese benadering volg om volhoubare boerdery te help handhaaf.
TLU SA beklemtoon dat die boere wat tans nog aktief op hul plase boer, van die mees waardevolle rolspelers in die land se ekonomiese stabiliteit is. Hulle dra by tot voedselproduksie, werkskepping, uitvoere en plaaslike ekonomiese groei. Alles moontlik moet gedoen word om hierdie produsente in produksie te hou, eerder as om hulle verder onder druk te plaas deur onwerkbare beleide of ’n gebrek aan ondersteuning.
Die konferensie het afgesluit met ’n oproep tot eerlike selfondersoek en verantwoordelikheid. Die vraag is gestel: “Wie vertrou nog die ANC?” Met verwysing na die afgelope drie dekades se beleidsrigtings, die ekonomiese agteruitgang, ’n toename in armoede en werkloosheid, en ’n klein politieke elite wat hulleself verryk ten koste van die breë publiek, is die konsensus duidelik: Die meerderheid teenwoordiges het geen vertroue in die ANC se vermoë om die land uit sy krisis te lei nie.
Daar is vrae gevra oor waarom sommige steeds stilswyende steun gee aan beleidsrigtings soos Swart Ekonomiese Bemagtiging en ander sosialisties-geskoolde strukture, wat al herhaaldelik bewys het dat dit nie tot regverdige ontwikkeling lei nie, maar eerder tot verdere polarisasie en ekonomiese stagnasie.
TLU SA roep alle rasionele, regdenkende Suid-Afrikaners op om beginsels bo ideologie te kies. Dit is nou die tyd om standpunt in te neem teen beleidsrigtings wat vernietig, en om opnuut te bou aan ’n ekonomie wat werklik werk vir almal, op grond van regverdigheid, meriete, eiendomsbeskerming en werklike werkskepping.



