James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA sê president se woorde breek brûe af

“Die president se uitlatings is nie opbouend nie en breek brûe woord vir woord af,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die landbouorganisasie TLU SA.

Hierdie reaksie kom na aanleiding van president Cyril Ramaphosa se uitlating dat “wittes se tyd verby is” tydens die ANC se herdenkingsfees op 8 Januarie 2023. In sy toespraak hamer Ramaphosa herhaaldelik op die ANC se siening oor rassisme en noem hy dat Suid-Afrika nie ʼn speelveld vir rassisme is nie.

“Om te sê dat wittes se tyd verby is en dat hulle geen mag meer het nie, is juis teenstrydig met dit waarvoor die ANC staan en sal ons graag wil hê dat die president moet verduidelik wat hy presies met hierdie stelling bedoel,” gaan Van Zyl voort. “TLU SA is teen alle vorme van rassisme gekant en voel dat dit nêrens in ons mooi land tuishoort nie. Ons voel egter ook dat die president van ʼn land die voortou hierin behoort te neem en die voorbeeld vir sy burgers moet stel.”

Van Zyl benadruk die feit dat ʼn stelling soos deur Ramaphosa gemaak nie net wittes benadeel nie, maar ook elke swart en bruin Suid-Afrikaner wat hard werk om die land te laat groei en ontwikkel.

“Meneer die president, jy verteenwoordig Suid-Afrika, wat uit burgers van verskillende rasse, geslagte en ouderdomme bestaan. Wanneer boere die saad plant om mense van Suid-Afrika te voed, word dit nie met ʼn voorkeur teenoor kleur of ras gedoen nie. Spreek eerder groei en vooruitgang oor ons mooi land, en onthou dat woorde wek, maar dat dit voorbeelde is wat trek.”

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA sê president se woorde breek brûe af