James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA soek polisiehoof wat SAPD sal suiwer

Die nuut aangestelde nasionale polisiehoof se belangrikste en onmiddellike taak is om die Suid-Afrikaanse Polisiediens te suiwer.

Lt. genl. Sehlale Fannie Masimola is Donderdag deur President Cyril Ramaphosa as die nuwe Nasionale Polisiehoof in die plek van Khehla Sitole aangewys.

“Wat ononderhandelbaar is, is die feit dat ons nuwe polisiehoof die polisiemag moet skoonmaak. Daar is te veel misdaad en korrupsie wat binne die polisiemag plaasvind. En indien die suiwering van ons polisiemag nie plaasvind nie, verloor Suid-Afrikaners steeds,” het mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder gesê.

“Daar is geen manier waarop Suid-Afrika georden kan word rondom misdaad nie, tensy ons ’n skoon polisiemag het. Vir ons as TLU SA is dit sy vernaamste taak. As hy dit nie gaan regkry nie, dan mors hy sy tyd en Suid-Afrika se tyd. ’n Gesuiwerde polisiemag is nodig om die vertrouensverhouding tussen die publiek en polisiemag te herstel. Suid-Afrika gaan nie die stryd teen misdaad wen, as misdaad hoogty vier in die polisiemag nie.”

Masimola het homself opgewerk in die strukture van die polisiediens deur die jare en TLU SA kan net hoop dat veiligheid vir hom die belangrikste is en nie politiek nie. TLU SA besef egter dit is baie gevra in die era van kaderontplooiing.

Henk van de Graaf, TLU SA Voorsitter: Noord het bygevoeg: “Ons het dit nog altyd duidelik gemaak dat ons deel van die oplossings wil wees as dit kom by landelike veiligheid. Ons sal enige tyd met hom wil saamwerk as dit vir hom ook belangrik is.”

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA soek polisiehoof wat SAPD sal suiwer