TLU SA, en spesifiek die Noordstreek, is trots om aan te kondig dat Danie Prins van 1 Junie 2023 amptelik dié streek se nuwe bestuurder is. Dit volg nadat Drickus Botha einde Februarie afgetree het.
“Dit was nie maklik om iemand te kry om Drickus Botha se skoene vol te staan nie,” sê Henk van de Graaf, die Noordstreek voorsitter. “Drickus het jare lank uitstekende diens aan nie net die Noordstreek gelewer nie, maar ook sy betrokkenheid by die nasionale komitees van TLU SA het ‘n wesenlike verskil gemaak.”
Danie Prins het 25 jaar diens in verskillende afdelings van die polisie gedoen. Dié ervaring is uiters waardevol veral rakende landelike veiligheid, wat ‘n deurlopende probleem bly. Sy laaste klompie jare se ervaring in die private sektor en sy passie vir landbou is ook ‘n aanwins vir TLU SA en sy lede. Hy het homself in sy loopbaan op verskeie vlakke bewys as ‘n goeie, dog ferm onderhandelaar wat van groot waarde kan wees in skakeling met owerheidsinstellings.
Danie het reeds by twee geleenthede uitstekende bydraes en insette gelewer toe afvaardigings van die Europese Parlement met TLU SA gesprek gevoer het, en kon met gemak inskakel by die gesprekke en selfs media-onderhoude suksesvol hanteer.
“Ons sien uit na Danie se toekomstige bydraes, maar wens Drickus terselfdertyd ook alle voorspoed met sy nuwe lewensfase toe,” sê Van de Graaf. “Ons bedank hom vir sy lojale, getroue en waardevolle diens in sy tyd by TLU SA.”
Danie Prins kan gekontak word by 072 904 7070 of danie@4sf.co.za.





