Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

TLU SA het vandag ‘n veldtog van stapel gestuur om die regering te dwing om gewelddadige en vernielsugtige protesaksies te bekamp.

In Suid-Afrika word betogings en protesaksies gekenmerk deur geweld, plundery en beskadiging. Vragmotors, voertuie en infrastruktuur soos geboue, skole, klinieke, besighede, tersiêre instellings en paaie loop daagliks deur onder ekonomiese terroriste.

“Dit is nie protesaksies of betogings nie, dit is eenvoudig gevalle van ekonomiese terreur,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA. “Hierdie doelbewuste voorvalle kos die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks miljarde rande weens verlore inkomste, tyd en hulpbronne.

“Ons hoor daagliks by ons lede dat hulle verlof moes gebruik omdat hulle dorp brand en versper word,” sê hy. “Mense is bang hulle kinders is in gevaar want daar is oproerigheid naby die skool. Of hulle versekeringspremie styg omdat hulle eiendom beskadig is tydens onluste.”

Die aantal eise wat deur Sasria – die regering se korttermynversekeraar vir skade weens oproer en terreur – hanteer word, het in die 2018/19-boekjaar skerp toegeneem. Meer as 5 000 eise ter bedrae van R1,7 miljard is in die boekjaar by Sasria ingedien.

“Gedurende Februarie het ons amper 250 voorvalle van vernietigende onluste in die land gesien,” verduidelik mnr. Meintjes. “Dit kom neer op agt en ‘n half gevalle van gewelddadige plundering per dag. Wanneer gaan die regering begin om die ekonomie en inwoners te beskerm teen ekonomiese terroriste?”

TLU SA versoek Suid-Afrikaners wat keelvol is vir enige vorm van ekonomiese sabotasie tydens betogings om hierdie veldtog te ondersteun en die petisie te onderteken. Met die petisie ontvang TLU SA dan die mandaat om die regering aan te vat oor daadwerklike optrede teen en die herstel na voorvalle van ekonomiese terrorisme.

Sluit aan

Nuusbriewe
Checkboxes

Kontak Ons