TLU SA het ons lede deurlopend ingelig oor die aksiestappe wat in gemeenskapsverband geïmplementeer behoort te word ten opsigte van die steeds stygende misdaad en anargie in die land. Suid-Afrika is in vele opsigte in gelokaliseerde anargie vasgevang.
Dit is baie laat in die dag indien daar nog nie gemeenskapsveiligheidsplanne geïmplementeer is nie.
Die riglyne is beskikbaar gestel en gemeenskappe moet self die verantwoordelikheid aanvaar om gegewe die plaaslike bedreiging hulself te posisioneer. Maak veral seker dat individue nie enige situasie wat met groepe mense mag ontstaan, alleen hanteer nie.
Video- en klankopnames is van kardinale belang.
Die belangrikheid van georganiseerde en gekoördineerde optrede kan nie genoeg beklemtoon word nie. Bestudeer die veiligheidsriglyne en implementeer soos van toepassing en vra hulp indien nodig.