Na aanleiding van die aftekening van die Agricultural Agro-Processing Masterplan (AAMP) tydens 2022 se Landboubegroting het die onderskeie rolspelers hul onder andere verbind tot transformasie in die dokument. TLU SA is nie na die ondertekening genooi nie, maar het tydens die ontwikkeling van die plan deurlopend versoek dat daar ’n ekonomiese definisie aan die begrip transformasie gekoppel moet word vir die landbou-omgewing.
Die proses het ten spyte van herhaalde versoeke voortgegaan sonder om TLU SA se standpunt enigsins te akkommodeer of te bespreek. Derhalwe seker die rede hoekom daar agter ons rug afgeteken is.
TLU SA se kommer het juis daarin gelê dat sedert 1994 toe die ANC verskeie instellings soos Denel, Eskom, SAL, die spoorweë, ensomeer in werkende en goed funksionerende toestand ontvang het, maar dat dit tot mislukking getransformeer is.
Ten spyte van ons waarskuwing aan die betrokke rolspelers in die waardeketting oor hierdie implikasies is daar steeds voortgegaan om die dokument af te teken. TLU SA het na ander rolspelers wat nie betrokke was nie soos Saai, WRSA, Neasa, LWO, en verbruikers (mark vir landbou) uitgereik en die proses oor die AAMP is weer oopgestel vir bespreking.
Landbouers en organisasies in die landbou-omgewing staan voor die keuse of hulle die vernietigende ANC ideologiese pad van transformasie gaan ondersteun of hulle gewig gaan ingooi om landbou op ’n ekonomiese volhoubaarheidspad te help plaas.
Daar het reeds verdere gesprekke met die DG van landbou in die verband plaasgevind en die proses is oopgemaak sodat insette van die groep aangehoor en verwerk kan word.