“Die minister van finansies het ʼn baie moeilike begroting in ʼn tyd waar hoë lewenskostes, lae spaarvlakke en die huidige energiekrisis groot stremming op ekonomiese groei plaas. TLU SA doen ʼn beroep op die minister om sy potlood behoorlik skerp te maak om tekortkominge weens die regering se oorspandering te voorkom,” sê Erika Helm, voorsitter van TLU SA se plaaslike regeringskomitee.
Minister Godongwana sal na verwagting Woensdag 22 Februarie 2023 om 14:00 sy begrotingsrede in Kaapstad lewer waar dit ook op DStv-kanaal 408 te siene sal wees.
Helm gaan voort deur na die finansiële hulpkrete van instansies soos Transnet en SAL te verwys wat ook, nes Eskom, gered moet word en op staatshulp staatmaak. “Hierdie instansies moet binne die begroting gehelp word. Die minister moet ook in ag neem dat beurtkrag ʼn negatiewe impak op winsgewendheid en belastinginvordering het, wat weer ʼn kleiner staatskas tot gevolg het. Die hele infrastruktuur rakende watervoorsiening en die herstel van paaie moet ook deurlopend aandag begin kry. Dit is nie net elektrisiteitsvoorsiening wat in die moeilikheid is nie.”
TLU SA se 2023 begrotingswenslys sluit ook in:
- Prioritiseer veiligheid.
- Dieselrabatte vir boere wat die produksieproses aan die gang moet hou weens beurtkrag.
- Verminder die hoeveelheid regeringsbeamptes.
- Rampbestuur rondom infrastruktuur.
- Dienslewering – korrupsie moet hokgeslaan word binne staatsinstellings soos munisipaliteite.
- Fokus op ekonomiese groei van die land.
- Staatskuld moet onder beheer kom.
- Kommunikasie moet dringend aandag kry.
- Maatskaplike toelae moet gestop word.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, beklemtoon dat al hierdie probleme wat aangespreek behoort te word, op ʼn regering dui wat sy land faal. “Terugvoering oor die beloftes wat verlede jaar gemaak is, sal ʼn goeie afskopplek vir môre se begrotingsrede wees sodat die publiek kan weet of hierdie beloftes ooit gerealiseer het. Beloftes moet daadwerklik deurgevoer word en daar moet aanspreeklikheid vir elke belofte aanvaar word. So nie, beteken ʼn begroting niks.”



