TLU SA is verheug met die nuus van die sowat 50 Vrystaatse paaie wat veiliger gemaak gaan word.
William Bulwane, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, het die week bekend gemaak dat dié departement R13 miljoen van sy eie geld en 40% van die staat se beregtigingstoelae sal aanwend om slaggate te vul.
“Dit is verblydend om te verneem dat mnr. Bulwane sy verantwoordelikheid teenoor die inwoners van die land as ’n ernstige situasie aanvaar en positief daarop reageer,” sê mev. Erika Helm, TLU SA Plaaslike Regering.
Die bekendstelling van Sanral se slaggat-toepassing is ook goeie nuus.
“TLU SA is opgewonde oor die inisiatief om ’n Sanral-slaggat-toepassing beskikbaar te stel vir motoriste sodat die benadeelde padgebruiker sy stem kan laat hoor. Dit is egter ’n bron van kommer dat die stelsel nog nie ten volle funksioneel is en almal nog nie opgelei is nie.”
Volgens mev. Helm is dit nodig vir die publiek om te weet wanneer alles in werking sal wees.
“Oktober is die Vervoermaand-veldtog wat nasionaal bekend gestel is deur Fikile Mbalula, minister van vervoer. Ek sal egter graag wou sien dat ander provinsies hierdie model van die Vrystaat volg en dieselfde onderneem. Tans skitter hulle in hul afwesigheid.”
Duisende menselewens is al op die land se paai verloor en nie net in die Vrystaat nie.
“Daar is ’n ernstige versoek dat Sanral deur sy inisiatief ook by die ander provinsies die leiding neem vir soortgelyke inisiatiewe. Vir jare gaan die belastingbetalers gebukkend onder swak onderhoud, afwesigheid van herstelwerk en voortdurende verskonings van tekortkominge en probleme. Dit terwyl die belastingbetaler deurlopend betaal vir dienste wat geensins gelewer word nie. Dit het tyd geword dat die regering sy mandaat opneem en na die inwoners van die land omsien wat vir die staatskas verantwoordelik is waaruit die land se finansies gevoed word.”
Mev. Helm het ook gesê dit is belangrik dat daar nie net op Sanral-roetes gefokus moet word nie.
“Daar is ook behoeftes op die roetes wat ressorteer onder die paaie agentskap en openbare werke waar die daadwerklike aksies wat langtermyn oplossings is, nog nie werklik geïmplementeer is nie.”








