James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Wat is die prys van my stem?

Die munisipale verkiesing is agter die rug en die stemgeregtigdes van Suid-Afrika het hulle wens uitgespreek. Met die aanloop tot die verkiesing reeds het mens verstom gestaan dat daar nog enigsins iemand is wat dit sal oorweeg om vir die regerende party te stem, maar helaas die stemme is uitgebring.

Die vraag kom dan na vore of kiesers regtig kan oordeel in hul besluitneming indien die uitslag ontleed word. Wat is die prys van my stem in hierdie saamgestelde kulturele groeperinge van onderskeidende groeperinge wat duidelik in die praktyk wys dat die lewens-en wêreldbeskouinge uiteenlopend is en inderdaad nie versoenbaar is nie.

Sekere mense stem vir die plundering van die land se bates, vir kader-ontplooiing wat toesien dat hulle en hul kinders se toekoms van hulle ontneem of gesteel word, selfverryking deur politici ten koste van jou as kieser, vir ’n beleidsomgewing wat waarborg dat werkloosheid en armoede jaarliks styg, die ineenstorting van infrastruktuur waarvan die mees ernstige sekerlik die swak lewering van elektrisiteit is, ens. ens. Die term siende blind en horende doof skiet in mens se gedagtes op.

Wanneer na sekere uitsprake en sienings geluister word, tref dit mens dat in sommige mense (dalk die meerderheid) se denke welvaart iets is wat bestaan en dat dit net eintlik gedeel moet word en dan kan almal gelukkig wees. Selfs in die Parlement is die stelling deur ’n LP van die regerende party teenoor my gemaak tydens ’n geleentheid wat daar getuig is oor wat die implikasies sal wees van onteiening sonder vergoeding. Dit blyk ook dat ekonomiese groei maar iets is wat net aangekondig kan word en siedaar, opgelos is al die land se probleme.

Die toekoms is nie vir ons uitgestippel nie.  Die onsekerhede is deel van ons daaglikse bestaan. Wat ons as Christene wel weet is dat ons sekerheid kan hê oor een aspek en dit is dat God in beheer was, steeds is en ook in die toekoms sal wees. Ons daaglikse praktyk word egter beleef in ’n negatiewe omgewing waarbinne daar gepoog moet word om positief vorentoe te beur. Dit is immers vervat in ons as Christene se kultuuropdrag soos vervat in die Woord naamlik bewaar en skep vir die toekoms. Om in ’n uiters onlogiese en ongesonde beleidsomgewing soos geskep deur die regerende politieke party dit na te streef, is gewis ’n stewige uitdaging.

Dit bring my by die punt van wat is die prys van my stem? Indien daar vir sowat 30 jaar ’n omgewing geskep is waar kundigheid eenkant geplaas word ten koste van velkleur; waar die land geplunder is op verskeie maniere; waar dit ervaar word dat daar duidelik op geen wyse in belang van die land se mense keuses gemaak word nie, maar eerder gefokus word op selfverryking, moet iewers die vraag gevra word: Wat is my stem werd en wat beteken dit vir my nageslag en hul toekoms? Die antwoord is klinkklaar dat die stem uitgebring oor al die jare inderdaad ’n verspilde stem was indien daar vir die ANC gestem was.

Suid-Afrika is vasgevang in ’n sinkende ideologie wat buiten die reg geplaaste kaders vir niemand ’n toekoms skep nie.

Waar laat dit ons elkeen? Gaan ons vassteek by ’n stem uitgebring deur die ongeveer 30% van die stemgeregtigde kiesers wat voortaan die rigting gaan bepaal ten opsigte van ons dienslewering?

Gelukkig het ons elkeen ’n gesonde verstand en baie talente en ’n drang om ’n beter toekoms te skep. Ons stem mag nie stop by die stembus waar die uitkoms daarvan alleen die rigting gaan aandui nie. Dit is juis in die gees van ons eie lewens en wêreld beskouing dat ons skeppend die toekoms moet aangryp. Ons stem is nie net ’n kruisie iewers in ’n stembus nie. Ons stem is juis om te gaan doen volgens waardes waarop ons nageslag eendag trots gaan wees. Hoe bou ons vir die toekoms moet ’n Credo word vir elke persoon wat vir hul kinders ’n beter toekoms wil help skep. Die vertrekpunt daarvan is die fondament waarop ons jeug se toekoms gebou word. Anker ons die jeug steeds in ’n lewens-en wêreldbeskouing waarmee ons groot geword het? Daardie beskouing waar die horisontale verhouding gebou word volgens die riglyne en krag wat geput word vanuit die vertikale verhouding.

My stem kan ’n praat stem wees.  Deesdae is dit gerieflik om op die sosiale netwerke ’n baie sterk sleutelbord operateur te wees. Of dit kan ’n doen stem wees. Wat ons dalk nodig het, is moontlik ’n praat stem om mense in te lig, maar dan ook ’n doen stem wat na resultate streef. Die strewe om verby die onaanvaarbare te presteer en eie instellings daar te stel, het ons verantwoordelikheid geword. Die toekoms wink inderdaad daarvoor – laat ons nie terugdeins nie.

Laat ons stem nie net ’n kruisie iewers op ’n stembriefie bly nie, maar dat ons stem in die praktyk uitkomste genereer vir ’n stabiele omgewing waarbinne daar gebou kan word vir die toekoms.

Kategorie:

Deel dit:

Wat is die prys van my stem?