Daar is ’n spreekwoord in die volksmond: “Niks in die lewe is ooit seker behalwe die dood en belasting nie”. Die tragedie is nie so seer die feit dat die gesegde waar is nie. Die tragedie lê daarin dat wyl jou kis in die graf af sak, rys SARS en sy eis vir boedelbelasting op uit daardie einste graf. Jy mag miskien in saligheid in jou graf lê, maar jou naasbestaandes moet die praktiese realiteit van boedelbereddering hanteer. Indien jy nie voldoende boedelbeplanning gedoen het voor jou afsterwe nie, mag jou naasbestaandes opeindig met ’n kontantvloei-tekort en swaarkry na jou afsterwe.
Die eerste R3.5 miljoen netto waarde van die boedel is belastingvry. Dit is baie maklik vir ’n boedel om R3.5 miljoen te oorskry. Neem in ag dat die boedel bereken word teen die huidige markwaarde. Hoewel die grond dalk lank terug gekoop is, vereis SARS ’n waardasie (of verkoop van) die grond teen huidige markwaarde. Dit sluit in al die verbeterings. Bates bestaan nie net uit grond nie, dit sluit lewende hawe, oeste op die lande, implemente, meubels, skilderye, banksaldo’s en goue munte in. Letterlik alles wat aan jou behoort beland in jou boedel se boeke.
Sodra die boedel meer as R3.5 miljoen beloop, word tot en met die eerste R30 miljoen belas teen 20%. Jou netto bates wat R30 miljoen oorskry word belas teen 25%. Boedelbelasting is betaalbaar binne ’n jaar na afsterwe, tensy die Ontvanger ’n aanslag vroeër uitreik. Die aanslag is binne 30 dae betaalbaar. Rente word gehef teen 6% jaarliks op laat betalings. Die boedel moet die belasting betaal alhoewel daar uitsonderinge is op sekere polisse wat direk bemaak is aan ’n begunstigde. Dan moet die begunstigde die belasting betaal. Die probleem ontstaan wanneer daar bates in die boedel is, maar nie kontant om die belasting te betaal nie. Dan gaan ’n bate of bates verkoop moet word om die boedelbelasting te betaal. Dit is raadsaam om jou huidige boedelbelastingposisie te bereken in samewerking met jou Rekenmeester en Makelaar. Sodoende kan jy nog uitdagings die hoof bied sonder om jou afhanklikes in ’n swakker posisie na te laat.
Indien u enigsins hulp benodig is u welkom om Marica Gerber te kontak van Camira Geregistreerde Rekenmeesters en Ouditeure. Ons is gerieflik geleë in TLU SA se gebou.
Selfoon: 0846022397
Landlyn: 0861115227
WhatsApp: 0603832046
E-pos: Info1@camira.co.za
Webtuiste: www.camira.co.za
Hierdie artikel is opgestel volgens inligting aan ons beskikbaar en ons eie ervaring. Dit verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van SARS of enige iemand anders nie.



