Deur Adv. Michelle Smuts
Wanneer vakbonde aanspraak maak op regte binne die werksplek, kan dit ʼn ongemaklike situasie skep vir werkgewers wat onseker is rakende hul eie regte en dié van die vakbond, asook hoe hierdie regte gereguleer word. Slegs geldige vakbonde kom in aanmerking vir enige regte in die werksplek en beveel ons aan dat werkgewers die volgende doen:
- Beoordeel of dit ‘n geldige vakbond is:
- Die vakbond moet geregistreer wees by die Departement van Arbeid en ‘n gestempelde registrasiesertifikaat hiervan kan toon;
- Die vakbond se konstitusie moet duidelik die industrieë waarin hy opereer uiteensit;
- Het die vakbond volwaardige lede met getekende lidmaatskapvorms as bewyse.
- Bepaal hoeveel van jou werknemers is volwaardige lede by ‘n geldige vakbond aangesien dit ‘n direkte invloed het op die regte waarop so ‘n vakbond kan aanspraak maak in die werksplek:
- Minder as 30% van my werknemers is lid: die vakbond kan op geen regte aanspraak maak nie;
- ±30% van my werknemers is lid: die vakbond kan op die eerste twee regte soos hieronder uiteengesit aanspraak maak;
- 50% +1 van my werknemers is lid: die vakbond kan op al vyf van die regte soos hieronder uiteengesit aanspraak maak.
Die Wet op Arbeidsverhoudinge erken die volgende regte van vakbonde:
- Toegang tot die werksplek
- Aftrekking van vakbondregistrasiefooie;
- Vakbondverteenwoordiging in die werksplek
- Verlof vir vakbondaktiwiteite
- Openbaarmaking van informasie
Wanneer ‘n vakbond aanspraak wil maak op enige regte in die werksplek is daar ‘n vasgestelde prosedure wat gevolg moet word. Die vakbond moet ‘n brief rig aan die werkgewer met sy intensies, asook om ‘n vergadering te versoek. Die werkgewer is dan verplig om binne 30 dae van hierdie skrywe met die vakbond te konsulteer. Wanneer ‘n geldige vakbond na beoordeling aanspraak kan maak op regte in die werksplek, is dit krities dat die werkgewer ‘n erkenningsooreenkoms sluit met die vakbond ten einde die uitvoer van hierdie regte te reguleer.
Arbeidswetgewing stel streng vereistes waaraan werkgewers moet voldoen en dit is presies wat die LWO doen: ons beskerm jou regte as werkgewer en maak seker dat jy boer binne die riglyne gestel deur arbeidswetgewing. Word lid by die LWO en beskerm jou besigheid en regte as werkgewer.



