Waarmee verpak ons die nuwe kalender?
2024 is reeds stewig op koers en heelwat onsekerheid wag op almal. Die verwagting is allerweë dat die wyse waarop die verkiesing gaan ontvou nie noodwendig stabiliteit gaan teweegbring nie. As landbouers is ons daarop ingestel om seisoenaal die regte dinge op die regte tyd te doen sodat die moontlikheid van produksiesukses hoër kan wees. Dit verg beplanning wat net met bewese ervaring verbeter kan word.
‘n Nuwe wêreld het oopgegaan met kennis en standpunte wat deesdae vrylik op sosiale netwerke en die internet beskikbaar is.
Dit is inderdaad so dat elke Jan Rap en sy maat nou die geleentheid het om ‘n opinie te lug en dit word maklik versprei as die waarheid. Dit is belangrik dat ons ‘n onderskeidingsvermoë moet ontwikkel en telkens moet bepaal hoe geloofwaardig bronne is alvorens ons dit wat rondgestuur word slaafs navolg. Ons moet besef dat ‘n beter antwoord gewoonlik in die beproefde weg gevind word. Nie in samesweringsteorieë nie, maar op feite wat behoorlik nagevors is.
Mag ons almal vanjaar ons kalenders volmaak met dit wat saak maak; mag ons fokus op dit wat ‘n verskil aan plaas- en landbouvolhoubaarheid sal maak. Dit kan ons net uit genade alleen kry.
Groete
Bennie
Foto: Eric Rothermel | Unsplash








