Benutting van strukture
Georganiseerde landbou behoort aan die boere. Die dinamika en riglyne waarin elke organisasie gaan beweeg, lê in die hande van die boere.
Ons het aan die een kant algemene sake organisasies, soos TLU SA wat fokus daarop om die mees gunstige beleidsomgewing te beding. Aan die ander kant het ons bedryfs- of kommoditeitsorganisasies wat vir die spesifieke kommoditeit fokus op onder andere produkontwikkeling, bemarking en navorsing.
Hierdie twee tipe organisasies is instrumente wat deur boere daargestel is om hulle by te staan en op ‘n kollektiewe wyse ‘n positiewe verskil te help maak. Boere se stem moet in die organisasies gehoor word om, gegewe ons werklikhede, die fokus te bepaal.
Dit is hartseer dat daar soms eerder opmerkings en kommentaar buite die organisasies gedeel word, maar intern word geswyg. Dit is inderdaad om jouself ernstig in die openbaar aan te val en te kritiseer. Kom ons benut dit wat ons s’n is volledig, gee leiding oor rigting met bedinging en maak reg wat verkeerd is.
Hierdie organisasies is almal instrumente in die boere se hande en hul aanwending kry beslag in die lede se behoefte aan beleidskanale. Kom ons benut hulle op die regte manier tot ons eie voordeel – wees asseblief betrokke.
Groete
Henry





