Na die verwoestende swartryp byna twee weke gelede en ewe verwoestende brande daarna, het ‘n vergadering plaasgevind tussen TLU SA Noord/Limpopo en die pas aangestelde hoof van die Provinsiale Rampbestuursentrum in die provinsie, dr. Takie Makananisa.
Beide die voorsitter van TLU SA Noord/Limpopo, mnr. Henk van de Graaf, en dr. Makananisa, het na afloop gesê dat dit ‘n baie vrugbare vergadering was, wat die basis gelê het vir ‘n goeie en volhoubare werksverhouding tussen die Departement en TLU SA Noord/Limpopo.
Alhoewel TLU SA Limpopo steeds inligting ontvang van die werklike omvang van die skade, kon die syfer van meer as R1,3 miljard rand reeds aan dr. Makananisa deurgegee word, wat dit op sy beurt aan die Nasionale Rampbestuursentrum, asook betrokke ministers sal deurgee. “Ons moet egter besef dat ons nog geensins alle verslae gekry het nie, en dat hierdie syfer nog drasties kan styg, namate die finale verliese as gevolg van die swartryp en brande bereken word,” sê mnr. Van de Graaf.
Dr. Makananisa het intense belangstelling in die landbou getoon en gesê sy departement erken die draad na voedselsekerheid na die onlangse uiterste rampe in die provinsie, en het die versekering gegee dat hy die kwessies wat geopper is ernstig opneem.
Hy erken TLU SA Limpopo se kritieke rol in die landbou en hul rol in voedselsekerheid en het gesê dat hy positief is oor die brug wat nou tussen die Departement en TLU SA Limpopo gevestig word. Opvolg gesprekke sal binnekort plaasvind, waarby ander rolspelers in die Limpopo regering betrek sal word.
“Intussen wil ons steeds ‘n beroep doen op alle boere in die provinsie (nie slegs TLU SA-lede nie) om skadeverslae deur te gee aan die provinsiale bestuurder, mnr. Danie Prins, by danie@4sf.co.za of per WhatsApp na 0729047070, sodat dr. Makananisa en sy departement deurlopend op hoogte gehou kan word,” sê mnr. Van de Graaf.
“Verder is dit ook uiters belangrik dat boere wat in finansiële verknorsing beland het as gevolg van hierdie rampe, onmiddellik met hul finansiële instellings kontak maak en oop kaarte speel oor die omvang ten einde oplossings te vind. Elke plaas is ‘n eie besigheidsentiteit en sal as sodanig hanteer word. TLU SA het al die versekering van finansiële instellings gekry dat hulle boere graag wil help, maar dat dit belangrik is dat hulle so vroeg moontlik hulle probleme met hulle kom bespreek,” sê mnr. Van de Graaf.



