TLU SA neem met groot kommer kennis van NERSA se sogenaamde “herbepaling” van Eskom se Generation Regulated Asset Base (RAB) en die gepaardgaande inkomste wat vir die volgende drie jaar uit elektrisiteitsverbruikers verhaal gaan word. Hierdie proses volg ná ’n Hooggeregshofuitspraak wat bevestig het dat NERSA se vorige besluit foutief en onwettig was, maar die nuwe voorstelle wys dat die kernprobleem nie reggestel is nie: die staat probeer steeds Eskom se mislukkings op die publiek afdwing.
In plaas daarvan dat Eskom verantwoordelik gehou word vir dekades van wanbestuur, korrupsie, swak beplanning en koste-oorskrydings, word daar nou gepoog om dit as “reguleerbare bates” te herverpak en deur elektrisiteitstariewe op boere, huishoudings en ondernemings af te wentel. Die feit dat NERSA nou selfs toelaat dat onvoltooide projekte (Work Under Construction) en Eskom se daaglikse kontantvloeibehoeftes (working capital) in tariewe ingesluit word, is ’n openlike erkenning dat die staat sy eie entiteit nie meer finansieel kan dra nie, en dus die publiek as die laaste reddingsboei gebruik.
Dit beteken in praktyk dat Suid-Afrikaners gedwing word om vooraf te betaal vir kragstasies wat nog nie bestaan nie, nie werk nie, of nooit gaan werk soos beplan nie. Hierdie risiko behoort by Eskom en die staat te lê, nie by verbruikers nie. In enige gesonde ekonomie betaal jy vir ’n produk of diens wat gelewer is, nie vir die boufoute, vertraging en wanbestuur van die verskaffer nie.
Vir boere en landbou-ondernemings is dit nie ’n abstrakte debat nie. Elektrisiteit is ’n kritieke insetkoste vir voedselproduksie, besproeiing, verkoeling, verwerking en veiligheid. Elke verdere verhoging word direk in kospryse, winsmarges en werksgeleenthede weerspieël. Die staat skep dus self die hoë lewenskoste waarna hy dan wys om nóg groter inmenging, nóg hoër minimum lone en nóg meer regulering te regverdig.
Dit is ’n bose kringloop van staatsverval: die regering vernietig Eskom deur ideologiese beleid en politieke inmenging; elektrisiteit word duur en onbetroubaar; die ekonomie verswak; werkgewers word onder druk geplaas om meer te betaal; en uiteindelik word die publiek nóg verder belas om die staat se mislukkings toe te smeer.
TLU SA verwerp hierdie benadering ten sterkste. Suid-Afrika kan nie ’n regeringsmodel bekostig waar mislukking altyd deur die belastingbetaler en die verbruiker gefinansier word nie. Die koste van staatsverval moet by die staat en sy instellings lê, nie by die mense wat werk, produseer en kos op die tafel sit nie.
Ons doen ’n dringende beroep op boere, werkgewers en die publiek om formeel teen hierdie NERSA-proses beswaar te maak, insluitend via Dear South Africa, waar elke individuele inset direk aan die betrokke besluitnemers gestuur word. Stilbly beteken instem.
Die lyne moet nou getrek word. Suid-Afrika kan nie langer ’n mislukkende regering, ’n ontspoorde Eskom en ’n ideologiese energiebeleid bekostig nie.



