Ons het ’n werklikheid in Suid-Afrika wat gewis vir elke rasioneel-denkende persoon tot erge frustrasie lei, naamlik die impak van ’n beleidsomgewing wat oor meer as dertig jaar ons land op ’n glybaan na mislukking geplaas het. Die gevaar is dat ’n mens later bloot die mislukking probeer bestuur en nie meer strewe na uitnemendheid en ’n beter toekoms nie. Die vraag en uitdaging is: Hoe hanteer ons dit?
Dit is maklik om ’n klomp warm lug die wêreld in te stuur; maar wat dan? Het dit enigiets geskuif of verbeter? Sodra energie ingesit word wat slegs emosies opwek sonder dat iets werklik verbeter, behoort ’n mens ernstig te besin of daardie energie nie vermors word nie. Vir enige persoon wat verstaan wat dit verg om ’n besigheid volhoubaar te bedryf en steeds kalm te bly in hierdie omstandighede, verg dit inderdaad hare op die tande.
Die wyse waarop die gevolge van hierdie onlogiese beleid van die ANC ons boere daagliks kniehalter en benadeel, het met Bek-en-Klouseer (BKS) volledig weer op die tafel gekom. Indien die staat sy verantwoordelikheid in dié verband nagekom het, kon hierdie situasie ’n baie beter uitkoms gehad het.
TLU SA se UK fokus op uitkomste in belang van ons lede. Dit is ’n toekomsgerigte benadering en verdien elkeen van ons se positiewe energie. Kom ons benut elke geleentheid konstruktief binne ’n raamwerk van bou, en oefen ons invloed op elke moontlike terrein uit in belang van landbouvolhoubaarheid.
Hierdie skrywe het in TLU SA se maandelikse nuusbrief, Pitkos, se Februarie-uitgawe verskyn.





