TLU SA Limpopo ondersteun TLU SA se nasionale verklaring oor die Amerikaanse regering se besluit om Suid-Afrika se voorkeurtoegang ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) te beëindig. Die aangekondigde beëindiging vanaf 1 Januarie 2027 hou ernstige risiko’s vir landbouondernemings, werksgeleenthede en landelike gemeenskappe in.
TLU SA Limpopo deel die nasionale organisasie se kommer dat die ANC-regering se beleidskeuses en hantering van internasionale verhoudinge Suid-Afrika se ekonomiese belange benadeel. Produsente, werknemers en ondernemings behoort nie die rekening te betaal vir politieke besluite waaroor hulle geen beheer het nie. Die regering moet aanspreeklik gehou word vir die gevolge van sy optrede en dringend werk aan die herstel van dié belangrike handelsverhouding.
Die gevolge kan verder as die uitvoerplaas strek
Vir Limpopo moet die blootstelling van onder meer vrugte-, neut- en verwerkingsbedrywe noukeurig bepaal word. Die mate waarin ondernemings geraak word, sal afhang van hul werklike Amerikaanse afset, die betrokke produkte se tariefbehandeling en hul vermoë om ander winsgewende markte te bedien.
Dit sou verkeerd wees om te aanvaar dat alle Limpopo-produsente direk na die VSA uitvoer of dieselfde verlies sal ervaar. Die moontlike indirekte gevolge verdien egter ewe veel aandag. Wanneer uitvoerbestellings afneem of opbrengste verswak, kan dit deurwerk na pakhuise, koelkamers, verwerkers, vervoerondernemings en insetverskaffers. Minder bedrywighede kan seisoenale werk en die inkomste van huishoudings en plaaslike ondernemings onder druk plaas.
Produsente wat hoofsaaklik plaaslik of na ander bestemmings verkoop, kan ook geraak word indien uitvoerprodukte na dieselfde markte herlei word. Groter aanbod kan pryse en winsmarges onder druk plaas.
Dringende optrede is nodig
TLU SA Limpopo sluit aan by die nasionale oproep dat bestaande handelsverhoudinge herstel moet word, terwyl alternatiewe uitvoermarkte ontwikkel word. Nuwe markte verg goedkeurings, betroubare kopers en uitvoerbare logistiek. Dit kan nie oornag gevestigde handelsverhoudinge vervang nie.
Die organisasie doen ’n beroep op die regering om:
- Die probleme wat die handelsverhouding met die VSA benadeel, dringend en prakties aan te spreek.
- Saam met landbou- en kommoditeitsorganisasies die werklike blootstelling van produsente, ondernemings en werkers te bepaal.
- Alternatiewe marktoegang en uitvoergoedkeurings te versnel.
- Vervoer, haweprestasie en uitvoeradministrasie te verbeter om vermybare koste te beperk.
Produsente word aangemoedig om hul uitvoerders, verwerkers en bemarkingsagente te raadpleeg oor bevestigde bestellings, toepaslike tariewe, kosteverdeling en alternatiewe afset. Kontantvloei en kontrakte behoort vroeg hersien te word.
TLU SA Limpopo beklemtoon dat die regering se besluite aan hul gevolge vir voedselproduksie, werk, beleggings en die lewensvatbaarheid van landelike gemeenskappe gemeet moet word. Die beskerming van hierdie ekonomiese belange vereis nou tasbare optrede.








