TLU SA, die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting het op Woensdag 16 Februarie drie bome geplant in die historiese trekroetetuin by die Voortrekkermonument ter herdenking van die Voortrekkers wat op 16-17 Februarie 1838 by Bloukrans en Weenen vermoor is en ook vir die slagoffers van plaasmoorde en -aanvalle wat die land vandag beleef.
TLU SA sien die Koraalboom as lewendige simbool van groei en hoop vir die toekoms ongeag die veiligheidsomstandighede waaronder Suid-Afrika se boere gebuk gaan.
“Vir ons is dit in aansluiting met ons geskiedenis ’n lewendige monument wat ons vasberadenheid en geloofsbegronding vir die toekoms bevestig. Die Voortrekkermonument is ons sin. Dit is belangrik om dit wat hier versinnebeeld word, te koester en ook met trots uit te dra aan ons eie, maar ook alle ander mense. Die instandhouding en voortgaan van dié monument lê uitsluitlik in ons eie hande,” het TLU SA Hoofbestuurder, mnr. Bennie van Zyl gesê.
TLU SA, Erfenisstigting en die Voortrekkermonument het ook ’n samewerkingsooreenkoms geteken. Die organisasies sluit hierdie ooreenkoms ten einde die samewerkingsverhouding tussen die hulle, asook aangeleenthede wat daarmee verband hou, te bevestig.
Die verhouding is gebaseer op vrywillige samewerking en is slegs van toepassing tot die mate wat die samewerking tussen die partye, as ’n geheel, tot die voordeel van al drie organisasies is.
Vir TLU SA saam met die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting is die bewaring van die geskiedenis baie belangrik.
“Ons belê in ons kinders en kleinkinders en dra stories oor wat hul moet inspireer. Die Trekroetetuin is deel van die oefening om die stories van die verlede vir die kinders lewendig te maak en te hou.” het dr. Danie Langer, van die Voortrekkermonument, gesê.
Genl. Maj. Chris van Zyl, wat na 20 jaar in diens van TLU SA die week aftree, het die geleentheid bygewoon.
“Die idee van lewendige monument het van Chris gekom en daarom is dit so ongelooflik spesiaal om hom ook hier te hê vandag. Ons plant dié bome vandag met die graaf wat die eerste sooi vir die TLU SA-gebou in 1972 gegooi het. Dié graaf is sedert 1957 eiendom van TLU SA,” het mnr. Bennie van Zyl verder gesê.










