James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Brandstofskok voor plantseisoen plaas volhoubaarheid van voedselproduksie onder druk

TLU SA spreek sy ernstige kommer uit oor die jongste skerp styging in Suid-Afrika se brandstofpryse, wat op ‘n kritieke tydstip vir die landboubedryf in werking getree het. Met die somerplantseisoen wat aanbreek, word veral saaiboere gekonfronteer met aansienlik hoër produksie- en vervoerkoste, terwyl die winsgewendheid van die komende seisoen reeds deur wisselvallige marktoestande en onsekerheid oor weersomstandighede bedreig word.

Die brandstofprysaanpassings wat op 7 Oktober 2026 in werking getree het, het die prys van 93-oktaanpetrol met R3,12 per liter en 95-oktaanpetrol met R3,33 per liter verhoog. Die groothandelprys van diesel het met onderskeidelik R2,84 en R3,24 per liter gestyg, afhangend van die swaelinhoud. Internasionale oliepryse, geopolitieke spanning en onsekerheid oor olievoorsiening het tot die verhogings bygedra.

TLU SA meen egter dat die werklike omvang van hierdie brandstofprysheffing nie bloot aan die styging in die literprys gemeet kan word nie. Produsente moet juis nou aansienlike finansiële verpligtinge aangaan om die volgende oes te vestig, sonder enige sekerheid dat die uiteindelike inkomste die verhoogde koste sal regverdig.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die tydsberekening van die verhogings is besonder kommerwekkend.

“Ons praat van ‘n tydperk waarin saaiboere groot bedrae moet bestee om die volgende oes in die grond te kry. Hierdie uitgawes kan nie bloot uitgestel word totdat brandstofpryse weer daal nie. Die boer moet nou besluit of hy die finansiële risiko kan bekostig, terwyl hy nog nie weet wat die weersomstandighede, opbrengs of uiteindelike produkprys gaan wees nie.”

Volgens TLU SA strek die uitwerking van duurder diesel veel verder as die gebruik van landboumasjinerie. Saad, kunsmis, chemikalieë en ander insette moet na plase vervoer word, waarna diesel vir grondvoorbereiding, plantwerk en die oesproses gebruik word. Verdere vervoerkoste ontstaan wanneer produkte na silo’s, verwerkingsaanlegte en markte vervoer word.

Dieselfde brandstofprysverhoging kan dus op verskillende stadiums van die produksieketting tot bykomende uitgawes lei. ‘n Verhoging van R3 per liter beteken byvoorbeeld dat ‘n produsent wat 10 000 liter diesel gebruik, reeds R30 000 meer betaal, sonder om enige indirekte kostestygings in berekening te bring.

“Die probleem is dat die boer nie noodwendig hierdie bykomende koste in sy produkprys kan verhaal nie. Hy is in ‘n groot mate ‘n prysnemer. Sy uitgawes word deur internasionale en plaaslike omstandighede beïnvloed, maar sy inkomste word uiteindelik deur markkragte bepaal,” sê Van Zyl.

TLU SA wys daarop dat selfs goeie oeste nie noodwendig winsgewendheid verseker nie. Stygende insetkoste, wisselende kommoditeitspryse en onsekerheid oor moontlike El Niño-toestande verhoog die finansiële risiko van die komende produksieseisoen verder.

Die organisasie meen die belangrikste vraag is daarom nie alleen hoeveel duurder voedselproduksie geword het nie, maar op watter punt die ekonomiese risiko van produksie groter raak as die moontlike opbrengs.

“’n Groot oes is nie noodwendig ‘n winsgewende oes nie. Ons kan nie aanhou om produksiesyfers as die enigste maatstaf van landbou se sukses te gebruik nie. As die boer jaar ná jaar meer moet bestee om dieselfde produk te lewer, maar al minder oorhou, is daar ‘n fundamentele probleem met die ekonomiese volhoubaarheid van daardie produksie,” sê Van Zyl.

TLU SA beklemtoon dat Suid-Afrika nie die internasionale olieprys kan beheer nie, maar dat binnelandse faktore die uitwerking daarvan verder vererger. Swak landelike paaie, beperkte spoorvervoer en logistieke ondoeltreffendheid verhoog die koste van landbou-insette en -produkte onnodig.

Die behoorlike bestuur van Suid-Afrika se strategiese brandstofvoorrade verdien ook aandag. Die omstrede verkoop van oliereserwes gedurende die ampstermyn van die voormalige minister Tina Joemat-Pettersson beklemtoon die belangrikheid van verantwoordelike bestuur en voorsieningsekerheid. Hoewel strategiese reserwes nie internasionale prysstygings kan voorkom nie, kan dit help om die land se blootstelling aan ernstige voorsieningsonderbrekings te beperk.

“Ons kan nie die olieprys verander nie, maar ons moet ten minste sorg dat ons nie die uitwerking daarvan deur ons eie ondoeltreffendheid vererger nie. Dit is kostedruk wat wel binne Suid-Afrika aangespreek kan word,” sê Van Zyl.

TLU SA meen produsente sal hul finansiële blootstelling aan die verhoogde koste deeglik moet beoordeel. Gesamentlike insetaankope, die konsolidering van aflewerings en die hersiening van vervoerooreenkomste kan waar prakties moontlik sekere uitgawes beperk. Hierdie maatreëls kan egter nie die volle uitwerking van die huidige verhogings uitskakel nie.

“Boere is gewoond daaraan om aanpassings te maak en onder moeilike omstandighede voort te gaan. Maar daar is ‘n grens aan hoeveel kostestygings ‘n onderneming kan absorbeer. Ons kan nie van produsente verwag om elke keer bloot nog meer doeltreffend te werk, terwyl die ekonomiese omstandighede waarin hulle moet produseer, voortdurend verswak nie.”

Volgens TLU SA kan die gevolge van hierdie druk veel verder as die plaashek strek. Wanneer produsente besluit om minder te plant, produksie af te skaal of investering uit te stel, raak dit uiteindelik ook insetverskaffers, landelike ondernemings, werksgeleenthede en die breër voedselwaardeketting.

Die organisasie beklemtoon dat voedselsekerheid nie net gemeet kan word aan die hoeveelheid voedsel wat vandag beskikbaar is nie, maar ook aan die vermoë van produsente om in die toekoms winsgewend voort te gaan produseer.

“Ons moet die gesprek oor brandstofpryse verder voer as die volgende aanpassing aan die pomp. Dit help nie Suid-Afrika het vandag voldoende voedsel, maar die produsente wat dit moet voorsien, word finansieel al hoe swakker nie.”

Van Zyl sê die land se voedselsekerheid is uiteindelik onlosmaaklik verbind aan die winsgewendheid van sy produsente.

“Voedselproduksie kan nie op die lang duur deur volharding alleen gedra word nie. Dit moet ekonomies sin maak om te boer. As ons daardie beginsel uit die oog verloor, gaan die gevolge van vandag se kostestygings veel langer gevoel word as net tot die volgende brandstofprysaanpassing.”

Kategorie:

Deel dit:

Brandstofskok voor plantseisoen plaas volhoubaarheid van voedselproduksie onder druk