Ná byna twee dekades in die diens van TLU SA en voor dit 36 jaar se diens in die Suid-Afrikaanse Weermag, het gen. maj. Chris van Zyl besluit dit is tyd om die diens aan Suid-Afrika aan die volgende geslag te oorhandig.
“Dit was ’n besonderse blootstelling wat nie vir almal beskore is nie,” het gen. maj. Van Zyl oor sy 45 jaar in diens van ons land gesê.
“Dit was aanvanklik beslis ’n groot uitdaging en aanpassing om by TLU SA te begin werk na die weermag. Ons almal werk egter vir ’n belangrike saak en dit is verseker dat al die uiteenlopende persoonlikhede mekaar vind vir die groter doel waarmee ons by TLU SA besig is. Alle inwoners van ons land moet betrokke wees en daarom is organisasies soos TLU SA van kardinale belang. Die huidige stand van sake beteken een boer se lot, is ook die lot van sy buurman.”
Hy voeg by: “Raak betrokke. Dit is nodig dat Suid-Afrikaners oor kritieke kwessies uit een mond praat. Elke organisasie het sy plek, maar oor dringende kwessies moet ons saam praat.”
Met die groet van gen. maj. Van Zyl, verwelkom TLU SA vir dr. Gawie Lötter en Mauritz Lombard.
Dr. Lötter het jare se ondervinding in die Suid-Afrikaanse Weermag. Hy het die weermag verlaat met die rang van Kolonel en daarna in die akademiese wêreld as professor in strategiese kommunikasie sy stempel afgedruk.
“Elkeen van ons is bewus van die talle uitdagings wat Suid-Afrikaanse boere tans in die gesig staar. Ons wat nog kan en oor die vermoë beskik om die boer te help en te ondersteun, hetsy deur die voorsiening van tydige en akkurate inligting, ondersteuning, motivering, advies en goeie oop eerlike kommunikasie, het die plig, as die geleentheid hom voordoen, met lojaliteit en passie so te doen,” het dr. Lotter gesê.
“Die pos maak spesifiek hiervoor voorsiening. Om die lede van die TLU SA se belange te verteenwoordig en te bevorder, is die primêre funksie van die pos. Hiervoor het ek ’n diepgewortelde begrip en passie aangesien ek op ’n plaas groot geword het, en ek glo, ek verstaan. Om in dié pos te dien, word die geleentheid geskep om in elke boer en sy gesin se lewe ’n verskil te maak. My persoonlike leuse is: In ondersteuning en samewerking, is ons krag!”
Mnr. Lombard het ook in die Weermag spesialis ondervinding opgedoen en klaar gemaak met die rang van Lt. Kol. Hy het ook as regspraktisyn gepraktiseer.
“Na die jare wat ek as prokureur praktiseer het, bied die pos by TLU SA aan my die uitdaging om ’n sinvolle bydrae tot die gemeenskap te maak deur die belange van die landbou en in besonder die boer, te koester en te bevorder. Ek sien uit daarna om die boerderygemeenskap te dien met my kennis en ondervinding en glo dat ek ’n sinvolle bydrae kan lewer,” het mnr. Lombard gesê.
“Dit is met groot dankbaarheid dat ons Chris groet en hom alles van die beste toewens. Ons verwelkom met groot opgewondenheid die besonderse kundigheid wat Gawie en Mauritz gaan toevoeg tot TLU SA. Ons is opgewonde oor die bydrae wat hulle kan maak vir ons lede, maar ook die landbou-gemeenskap in die breë. Buiten ander take sal dr. Lötter vir die Veiligheidskomitee administratiewe ondersteuning gee en mnr. Lombard aan die Plaaslike Regeringskomitee,” het mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder gesê.








